Fotograaf onbekend, foto ontvang

Ek het in hierdie huis gebly. Net meer as ‘n jaar lank. Hierdie huis wat die naweek af gebrand het. Tot as, niks is oor nie. Dit was ‘n huur huis in ‘n tyd toe dit bitter, bitter swaar gegaan het. Toe ek hiervan hoor raak dit my dieper as wat ek gedink het so iets sou. Ek wonder hoekom  en ek stel ondersoek in.

Ek is baie jammer vir die eienaar. Sy het ‘n barmhartige hart en deel graag groente uit en help ander waar sy kan. Vir ons ook, gereeld iets af gelaai. Toe die finansies destyds saam met ander dinge al hoe meer afdraende loop, vra sy ons moet trek. Ek verstaan dit maar dit forseer my na omstandighede en ‘n plek van dieper elende. Die afdraende en verval was vinnig.
Die huis was die begin van wat ‘n droom moes wees. Dit was die begin van soveel hoop, soveel planne. Dit moes die vir altyd en altyd -gelukkig laat eindig. Dit het nie. Dit word ‘n simbool van pyn, swaar kry, ellende, armoede, trane, skok, bang wees, baie bang en ja, vernedering. Dit word ‘n plek waar drome in nagmerries verander,  waar hoop stadig dood wurg. Die plek waar ek drome laat gaan. Die plek waar ek myself verloor het.

Ek moes vêr en wyd soek om myself weer te vind. Die pad terug was lank en moeilik maar, so die moeite werd. Genade pleisters so groot, geduld in mates afgemeet. Die boodskap duidelik, word gesond, sit neer die droom, daar is ‘n nuwe. Saterdag, ‘n dag voor die brand seel ek daardie deur finaal dig toe. Ek het getuies by my, ek is klaar. En een dag later, die nuus…

Ek besef die diepte van my rou proses wat hier eindig. Net soos die brand ‘n einde bring aan die huis, bring dit simbolies einde aan dit wat in daardie huis saam met my gesterf het. Al wat oor bly is ‘n hopie as. Dit kan nooit weer herbou word nie.  Soos die huis eienaar haar huis en drome sien afbrand, was daardie huis die simboliese afbrand van alles wat ek voor gehoop en gedroom het. Daaroor rou ek vandag al het my wonde genees. Dit wat was en wat dit moes wees. Dit wat nooit sal wees.
Maar ook is ek onbeskryflik dankbaar dat dit klaar is. Dat niks niks oorgebly het. Ek wil nooit weer daarheen terug keer nie. Ek stap weg van die hopie as, ek skud die stof van my voete af. Dit is verby. Dit is tyd vir ‘n gewaad van lof, tyd vir fees vier, tyd vir ‘n nuwe droom. Ek sal ook dit profeties doen. Vir my ‘n mooi rok koop, ‘n nuwe altaar van hoop bou-vir ‘n nuwe droom, nuwe hoop, nuwe lewe!