
Ek het in hierdie huis gebly. Net meer as ‘n jaar lank. Hierdie huis wat die naweek af gebrand het. Tot as, niks is oor nie. Dit was ‘n huur huis in ‘n tyd toe dit bitter, bitter swaar gegaan het. Toe ek hiervan hoor raak dit my dieper as wat ek gedink het so iets sou. Ek wonder hoekom en ek stel ondersoek in.
Ek is baie jammer vir die eienaar. Sy het ‘n barmhartige hart en deel graag groente uit en help ander waar sy kan. Vir ons ook, gereeld iets af gelaai. Toe die finansies destyds saam met ander dinge al hoe meer afdraende loop, vra sy ons moet trek. Ek verstaan dit maar dit forseer my na omstandighede en ‘n plek van dieper elende. Die afdraende en verval was vinnig.
Die huis was die begin van wat ‘n droom moes wees. Dit was die begin van soveel hoop, soveel planne. Dit moes die vir altyd en altyd -gelukkig laat eindig. Dit het nie. Dit word ‘n simbool van pyn, swaar kry, ellende, armoede, trane, skok, bang wees, baie bang en ja, vernedering. Dit word ‘n plek waar drome in nagmerries verander, waar hoop stadig dood wurg. Die plek waar ek drome laat gaan. Die plek waar ek myself verloor het.
Ek moes vêr en wyd soek om myself weer te vind. Die pad terug was lank en moeilik maar, so die moeite werd. Genade pleisters so groot, geduld in mates afgemeet. Die boodskap duidelik, word gesond, sit neer die droom, daar is ‘n nuwe. Saterdag, ‘n dag voor die brand seel ek daardie deur finaal dig toe. Ek het getuies by my, ek is klaar. En een dag later, die nuus…
Ek besef die diepte van my rou proses wat hier eindig. Net soos die brand ‘n einde bring aan die huis, bring dit simbolies einde aan dit wat in daardie huis saam met my gesterf het. Al wat oor bly is ‘n hopie as. Dit kan nooit weer herbou word nie. Soos die huis eienaar haar huis en drome sien afbrand, was daardie huis die simboliese afbrand van alles wat ek voor gehoop en gedroom het. Daaroor rou ek vandag al het my wonde genees. Dit wat was en wat dit moes wees. Dit wat nooit sal wees.
Maar ook is ek onbeskryflik dankbaar dat dit klaar is. Dat niks niks oorgebly het. Ek wil nooit weer daarheen terug keer nie. Ek stap weg van die hopie as, ek skud die stof van my voete af. Dit is verby. Dit is tyd vir ‘n gewaad van lof, tyd vir fees vier, tyd vir ‘n nuwe droom. Ek sal ook dit profeties doen. Vir my ‘n mooi rok koop, ‘n nuwe altaar van hoop bou-vir ‘n nuwe droom, nuwe hoop, nuwe lewe!
Liefste Bondels ek omarm saam met jou jou, “nuwe altaar van hoop bou-vir ‘n nuwe droom, nuwe hoop, nuwe lewe!”
LikeLike
Closure. Is daar ‘n goeie Afrikaanse woord daarvoor? Die ervaring wat jou laat besef dat daardie afdraaipaadjie finaal toegegroei het en dat jy moet aanstap. Jy is ‘n sterk vrou 💕
LikeLiked by 1 person
Dankie Hester. Ja verseker closure, ek dink dit sê dit beter as afrikaanse woord. Ek het eenmaal gehoor “rather do it afraid than not at all”, dis ekke daai. Was baie bang, nie so sterk- maar ek het dit bewend oorleef met groot genade van bo💕
LikeLike
Diep – baie diep gedagtes hier. Sterkte met jou toekoms – en koop daardie rok!
LikeLiked by 1 person
Dankie Anne, ek gaan verseker!!💐
LikeLike
Dis so simbolies. Die hoofstuk is finaal verby. Nuwe begin!!
LikeLiked by 1 person
Ek stem!!
LikeLiked by 1 person
Dankie vir die deelvan jou diep gevoel. Alles op Sy tyd. Daar het nie net n geestelike omswaai gekom nie maar ook n liggaamlike wegbreek. Dis verby. Mens het dinge soos die huis wat tot niet is nodig om te besef dis verby. Dis afgesluit. Nou kan jy werklik voortbou op wat kom en gaan gebeur. Stywe druk vir jou.
LikeLiked by 1 person
Dankie, jy is so reg . Ek is diep dankbaar. Waardeer jou druk
LikeLiked by 1 person
Dis so jammer vir die eienaar, maar dis amazing dat jy jou seer tyd finaal kan as(f)skud
LikeLiked by 1 person
Amen liewe Woordjies
LikeLike
Liefste Bondels. Ek is so jammer dat jy hierdeur moes gaan, maar dankbaar vir die sterker jy wat anderkant uitgekom het. Mag vreugde jou nuwe toekoms omvou.
LikeLike
Dankie Toortsie, ek sien uit daarna
LikeLike