Bosvrou word wakker en rek haarself uit. Dis nog vroeg, sy hoor die vroeë oggend voël  en diere geluide wat vertel van die natuur wat regmaak vir nog ‘n dag. Die vars oggend bos reuk wat ook nou al bekend is, bly steeds iets waaroor sy haar verwonder. ‘n Reuk wat net nie beskryf kan word nie. Tog, wanneer sy haar oë toemaak en diep inasem, tower ‘n skildery voor haar op. Plante en bome in verskillende skakerings en grotes, pronkend op die dooie blaar en gras tapyt. Bome, regop soos soldate, ander wyd soos ‘n vrou wat beduie en nog ander omgeval en lank reeds dood. Sonstrale wat deurskyn tussen takke; afgewissel deur skadu’s skep ‘n sprokiesland. Hier en daar tussen bome en plante, verskeie diere, klein en groot besig om te wei. Verotte plant, boom en diere dra by tot die geure wat saam dryf op die wind. Plek plek is daar rotse en reuse klipstapels. Die  son is nog nie uit sy slaapplek nie en daarom lê Bosvrou nog en luister  na al die geluide. Sy gaap en rek weer: “tyd vir tee” dink sy en glimlag onwillekeurig. Tee, wat ‘n luukse! Dankbaarheid wel weereens op in haar gemoed as sy regop sit en haar hand oor die sagte slaapsak streel. Geen blare wat steek meer nie.

Wat ‘n fonds was die oorlewings sak nie. Dit het soveel hoop gebring. Vandag gaan ek hawermout pap maak, praat sy met haarself terwyl sy opstaan en regmaak om uit te gaan. Sy skuif die skerm weg, kyk en luister ouder gewoonte eers na ander tekens van lewe. ‘n Klein bokkie skrik vir die geluid van die skerm. Bosvrou kyk hoe die bokkie rats weg’draf tussen die klippe in die bos’ruigtes in, sy klein hoefies klik klak oor die klippe. ‘n Paar brawe apies wat dit vroeg- vroeg grond toe gewaag het vlieg ook vervaard op terug bome toe. ‘n Groot uil knipoog stadig, nuuskierig om te sien waaroor die apies so ‘n bohaai opskop. Hy kyk vir ‘n stonde na haar en draai dan sy groot kop weg en laat sak sy swaar ooglede.  Bosvrou blaas haar asem saggies uit. Ek sal hierdie skouspel mis as ek nie meer in die bos is nie. Waar ek ookal is, dit sal nooit weer so wees soos nou nie. Alhoewel ek brand om terug te wees by my mense en waar ek ookal hoort, om so die diere te kan sien en beleef is ‘n voorreg. Sy stap vuur toe en begin die vuur weer stook. Dan sit sy genoeg water op vir tee en pap. Sy asem diep in om die geur van die brandende hout te ruik as dit meng met die bos se geur.  Ek moet weer gaan hout bymekaar maak. Ek wonder hoe lank nog gaan ek moet hout bymekaar maak,vuur maak, oorleef in die bos? Die kosgoed in die sak gaan verseker help.

Vandag gaan ek die Tracker opstel en aan skakel. Soos ek pappa ken sal dit reeds deeglik uitgetoets en geregistreer wees. Hy sou klaar die epos adresse en selfoon nommers geregistreer het wat die SOS boodskap ontvang. Sodra dit aangeskakel word en die sateliet die seine optel, stuur dit boodskappe uit. As ek reg onthou gaan daar 3 boodskappe na epos adresse en 3 sms boodskappe na verskillende foon nommers. Daar is verskillende verstellings, ek sal een moet kies wat die battery lank sal laat hou. Waar sal die beste plek wees? Sy draai stadig in die rondte. Nie teen die vliegtuig nie, metaal versteur die seine. Tog sal die wrak maklik sigbaar wees as hulle eers die sein volg en op lugfotos kyk waar die sein vandaan kom. Dan sal ek moet geduldig wees, die wag tot iemand kom sal dreig om my mal te maak. Gelukkig is daar twee trackers. Die ander een gaan ek bo op my rugsak vasmaak vir as ek rond beweeg, maar ek sal dit nie aansit nie tensy nood dit vereis. Miskien moet ek ook een van die signal mirrors met my saam dra orals waar ek gaan. Ek kan op die hoogtes gaan staan waar dit minder ruig is. Ek sal ‘n flair ook in my rugsak sit. Dit help nie ek gebruik dit nou nie, ek moet wag tot ek vliegtuie of sateliete gewaar. Dit is raadsaam om weer hieroor te dink en al my opsies mooi te oorweeg sodat ek  verantwoordelike besluite kan neem. Ek is al so lank hier, om deur oor haastigheid iets te doen waaroor ek later spyt kan kry mag nie gebeur nie. Hier is ekstra batterye maar mens weet nooit hoe lank dit neem voor mense kom of die boodskappe raak sien nie. Ek wonder watter mense gekontak word buiten die nood dienste. Ons  het nooit daaroor gepraat nie.

Ek sal baie geduldig moet wees. Ook met hoeveel ek onthou en die tempo waarmee my geheue terug keer. Om opgewerk of oorhaastig te raak kan my nou net nadelig beinvloed. Ek het geen idee wat vir my wag as ek eers weer beskawing toe gaan nie. Om verder hier te staan en top, help ook nie juis nie! Sy skink water by die tee sakkie wat sy die vorige dag gebruik het. Stoom trek lui lui uit die beker en sy glimlag weer oor hierdie bederf. Sy gaan sit met haar hande om die beker en skuif haar voete nader aan die vuurklippe. Haar oë soek soek in die oggend skemerte na plek om die tracker vas te maak. Die logo moet na bo wys en sy moet dit so plaas dat die apies en ander diere dit nie kan beetkry nie. Naby die holklip sien sy die perfekte plek in ‘n boom omtrent vyf tree van die wrak af. Die boom is lank reeds dood en al sy blare is af. Voëls en ape gaan sit nie juis in die boom nie. Tog is dit nog naby genoeg aan die ander bome om redelik skadu te kry. Die tracker mag nie teveel direkte son kry nie. Die dwars takke is dun genoeg om die girtsies daarom vas te maak wat saam met die tracker kom. Met die hulp van die holklip en rotse om dit behoort ek dit op een van die hoër dwars takke te kan vaskry. Sy sluk die laaste mondvol tee en sit dan die beker neer. Dit is nog te vroeg vir eet, eintlik is ek glad nie honger nie. Die apies se geskel agter haar laat haar besef sy kan nie haar blikbeker daar los nie. Sy buk en tel dit op. Sy neem die oorskiet water en spoel daarmee die beker uit. As sy wrak toe strap bars die eerste strale van die opkomende son deur die bome. Dit is die kleur van die vuur en dit glinster hier en daar deur die blare soos edelgesteentes. Sy gaan staan eers stil en verlustig haar aan die skouspel van ‘n nuwe dag. Dan gaan haal sy die tracker en stap boom toe.

Sy klim op die reuse klip en bekyk dan die takke deeglik. Daarna haal sy die tracker uit sy ziplock sakkie en skakel dit aan. Sy kyk hoe die liggie rooi flikker, eers vinnig, dan al hoe stadiger en uit eindelik groen word. Sy druk die verstel knopie tot hy die lang battery lewe opsie aandui. Daarna draai sy dit om en maak die girtsies oop. Dan staan sy op haar tone en reik na die oorhang tak, sit die tracker bo op neer en maak die girtsies vas. Sy toets of dit stewig is en staan dan terug. Haar bene bewe en sy blaas haar asem lank uit voor sy weer diep in asem. Daar is skielik ‘n knop in haar keel maar sy sluk dit terug. Vir die eerste keer in maande is daar regte tasbare hoop op redding. Dit is nie tyd om treurig te wees en te huil nie, dit is tyd vir bly wees en jubel. Net toe breek ‘n sonstraal deur die takke en val oor haar soos die kollig oor ‘n hoofspeler by ‘n ballet uitvoering. Die lag borrel oor haar lippe; “dis ‘ teken” sê sy hardop,” redding is oppad!”