Eet uit my hand

Om ‘n kuier van aangesig tot aangesig met Oom Olifant te hê, was nog altyd op my “bucket list”. Onder vredige omstandighede, by gesê. Ek het al gesien wat hierdie majestieuse diere kan doen as hulle die dag bevoeterd is of onnodig gepla word. Dit wil ek nie graag beleef nie. Eintlik het ek altyd nog op een wou ry, maar nie meer nie. Die respek wat ek vir hierdie diere by gekry het is net teveel. Ek kan dit uit eindelik hierdie van my lysie af merk.

Dit was ‘n koel dag soos vandag en dit het kort kort so saggies gedrup. Ek was aanvanklik bang hulle sou kanselleer. Ek was so dankbaar dat die dag nie so warm was nie en ek dus nie heeltyd in die ongenadige son moes wees nie. Boonop was ek die enigste persoon wat vir die dag bespreek was en het ek alleen al die interaksie met hulle gehad. Hoe bevoorreg kan een mens wees?Hoe lank dit gewoonlik duur, wis ek nie maar ek het oorgenoeg tyd by hierdie 5 olifante gehad. Dit was asembenewelend, beslis ‘n altyd onthou dag en belewenis.

Eers kon ek hulle af borsel. Hierdie ou grote wou met alle mag uitvind of dit ‘n eet ding in my hand is. Ek het die heeltyd met hom gesels en hy het my nuuskierig uit gekyk. Hy staan die hele tyd en wieg van een kant na ‘n ander om die gewig te verplaas. Ek was benoud hy trap my voete raak. Ek het agterna gegiggel toe ek die fotos sien, hoe ek my voete uit die pad probeer hou.
Mens het altyd hierdie romantiese idee in jou kop dat jy met die dier gaan “connect “, maar heelaas, dit was my nie beskore nie. Ek het bly soek, bly kyk in hulle oë terwyl ek praat en vat en voel. Ek wou hê hy moet weet hoe mal ek oor olifante is. Ek kon net nie ophou vat en vryf nie. My hande was growwerig na die tyd.
Die hare op sy lyf is taamlik hard en die op sy stert lyk en voel soos plastiek.Ek is seker die opsigter het gedink ek is mal. Die emosies en gedagtes wat deur my gegaan het, het my kort kort laat lag. Dit was oorweldigend om so weerloos langs hierdie dier te staan wat meer krag in sy slurp het as ek of enige iets of iemand wat ek ken. Ek het dit gevoel elke keer as een van hulle aan my stoot of soek na kos.

Wat ek nooit besef het, is dat sy slurp vol snot is. Ek het saam met die een gestap, slurp aan die hand. Die opsigter het my beduie ek moet my vier vingers in sy slurp druk en begin loop. Ek het. Dit was erg grillerig. As dit nie so ‘n onbeskryflike oomblik was toe die Olifant saam met my stap nie, sou ek my in ‘n ander bloedgroep in gegril het. Dit was nogal ‘n morsige storie. Ook toe die olifant uit my hand geëet het. Soos wat sy slurp oor die grond soek na goed wat hy kan optel, meng daai snot en grond en maak heerlike modder. Ek was oral van die modder soos die 5 olifante my beruik en bevoel het! Na die stappery is ons teen ‘n koppie uit. Ek moes op die bankie sit en wag terwyl hulle ander twee olifante bring. Ek het die vars lug in geasem en my seeninge getel. Hierdie olifante was nog groter en ek het net besef hoe bevoorreg ek is om dit te kan beleef. Toe daai olifant verby my storm het ek na my asem gesnak. Ek kon nie glo dat ek daar was en dat ek dit regtig regtig kon beleef. Ek het baie klein gevoel teen hierdie dier. Toe ek agterna na die fotos kyk was ek verwonderd oor hoe hoog hy bokant my uit troon.Hy was meer as dubbel my lengte! Ek sou graag langer hier wou sit en in asem. Kyk, luister, ervaar. Dit het gevoel na 5 minute. Van hier af is ek en een opsigter bosse in opsoek na die aleenloper. Ek het gevoel soos iemand op ekspidisie, versigtig oor waar en hoe ek hom gaan raak loop. My hart het sommer vinniger geklop. Dis hom wat ek gevoer het. Dit was onbeskryflik. Ek het ook met hom gepraat en hy het my beloon deur twee keer met my te praat. Dit was sekerlik ‘n konneksie op sy eie. Die klank kan ek nie beskryf nie maar die grootsheid daarvan het my sommer laat grens.

Ek het baie traag terug gestap. Baie spyt dit is verby. Die opsigter moes seker my emosies gesien het. Hy het my ‘n oomblik stil aangekyk en toe beduie om saam met hom na die laaste kamp te gaan. Hier was kleiner, jonger olifante. Hy het my gewys waar ek moet staan en een olifant nader geroep.  Toe sê hy “kiss her” . En daar kry ek ‘n vet modder en snot slurp soen op my wang. Die slurp het my hele wang, my oor en gedeelte van my ken toe gemaak. Ongelooflik!! Ek moes eers badkamer toe gaan en gaan was, ek het vreeslik gelyk!! Dis ‘n gevoel wat ek nie kan beskryf nie. Alles in my sê gril en wees bang. Maar die grootsheid van die oomblik het my oorweldig. Gril en bang het weg geval en plek gemaak vir verwondering, eerbied, respek en diepe bewondering en dankbaarheid.