Die eerste alleen nag in my nuwe blyplek was goed. Dit is aansienlik koeler as die klein tuin woonstel waaruit ek getrek het. Ek was mal oor my klein woonstel maar dit was baie bedompig.

Die vroeg oggend geluide vanuit die enorme tuin is musiek in my ore. Toe ek badkamer toe gaan maak ek die blinders by die bad oop en hol terug bed toe, wat reg oorkant my bad is. Die foto het ek geneem terwyl ek in my bed lê. Nou kan ek lê en kyk hoe die son se opkom die wereld inkleur en soos ‘n reuse skildery wat aanhoudend verander, deur my venster projekteer. Dit is asem benewelend. Vars lug stroom orals by oop vensters in en plant soene op my gesig. Voëls sing buite vir my ‘n simfonie en vrede lê in my gemoed.

Die trek was rof. Kantoor en huis op een slag, al is dit steeds op dieselfde plaas. Die ou kantoor is heeltemal ontruim en pronk nou in my voorhuis. Die shofars se vertoonkamer het sy staan kom maak in baas se eertydse sitkamer wat altyd haar trots was. Dit lyk na ‘n nuwe plek!

Die res van die huis is myne. Ek het self die mure help verf en die houtvloere help politoer tot dit blink! Die geur is lieflik en dra by tot die lekker kry in my lyf. Wanneer mens uitkyk by elkeen van die baie vensters, is dit grasgroen tuin. Ook bome wat voëls verwelkom met blomme wat hier en daar vrolik vir my waai. Sonstraaltjies speel wegkruipertjie en laat jou na jou asem snak as jy sy mooi onverwags betrap. Kleine goggatjies swaai op gebreekde spinnekop draadjies en blare warrel vrolik grond toe. Wanneer ek enige een van die buite deure oop stoot is daar ‘n blye hondegesig wat kom groet. Soveel seen, soveel vreugde, soveel rus lê dwars in my gemoed.

Shabbat Shalom