Roxy wie hulle wou hê ek moet vat om te laat “uitsit” het ge- upgrade…

Toe baas hulle 2 jaar gelede trek wou haar manlief dat ek Roxy veearts toe vat. Omdat sy toe al so gedaan en oud was. Ek steek tweevoetig vas en weier. Dis sy hond hy kan self as hy wil. My hart sal dit nooit oorleef as ek haar moet aanry wetende ek gaan moord pleeg. Aikonna. Nou is hy oorle en Roxy stoei voort, 2 jaar later. Seker het hy (baas se man) eintlik ook ge- upgrade, so to speak….

Toe hulle trek bly Roxy agter saam met al drie die ander honde. En kat. En hond se kind besluit ek is deel van die nuwe trop. Kat ook. Roxy haat dit om alleen te wees en maak seker sy bly ten alle tye so naby aan my as moontlik. Kat verbeel haar sy is hond en probeer tussen my voete bly. Soms tot my ergernis.

Roxy is stokdoof en sien is ewe swaar. As ek ‘n lekkerny na haar kan toe gooi, hap sy altyd mis met kake wat op mekaar klap wat my laat dink aan valstande wat wil uitval. Boonop had sy twee maande terug ‘n baie ernstige beroerte. Wat sy wragtag oorleef. Vir dae lank het sy op die afgrond tussen dood en lewe gelê. Ek dra water en kos aan en probeer voer, sy gee dit vir my netjies terug. Ek het geweet as ek haar veearts toe vat, is dit verby. Dis nie my hond nie. Baas sê los haar, sy sal self besluit wanneer sy losmaak van die lewe. Ek huil…

Roxy byt vas, sy wil by my bly. Sy weet nie haar eintlike baas wag vir haar aan die ander kant nie. Sy het op ‘n kombers agter my stoel op die stoep geslaap. Want my woonstel was piepklein en boonop stink ouma Roxy ‘n stink wat ek nie uit haar uit gebad kry nie. Ek vermoed ek was die eerste een wat haar ooit gebad het.

Nou het ek na die oop huis op die plaas geskuif en Roxy loop soek my heeldag. Toe maak ek maar die huis oop vir Roxy. Sy het ge-upgrade en slaap nou binne, maar daar waar ek haar nie raak ruik nie. Seker omdat hierdie huis so baie vensters het, ruik ek ook nie as sy hier by my kom lê in die kantoor nie. Sou sy buiten toe gaan en ek beweeg elders heen, soek sy my orals waar sy my al voorheen gekry het. Sy stoot die swaar hek oop met haar neus en loop af na die ou kantoor. Weliswaar moet sy kort kort rus, maar loop, loop sy. En kan sy om een of ander rede nie by die huis in, sal sy om en om die huis loop tot sy my gewaar. Dan sal sy net daar gaan lê waar sy naaste aan my kan wees. Soveel liefde – vir my!!??

So het hierdie ouma- amper-dood hond my voorheen-nie-lief vir honde-en-katte-hart, kom sag maak vir diere. Dat hulle my so kan lief hê, mors nog met my brein. Dalk is dit eder ek wat ge-upgrade het….