Vanoggend het bietjie wilderig begin. Eintlik het dit in die vroeë oggend ure deurmekaar begin gaan en net aanhou skewer raak tot nou hier waar ek by ‘n bande plek sit met ‘n rooi gesig..

Dit het begin met die donderweer wat my wakker gebulder het voor een vanoggend. Ek kon nie weer aan die slaap raak nie en besluit toe maar om regop te kom. Gewoonlik staan ek 4uur op, kuier eers bietjie by Liefste, tot 6 waarna ek dan reg maak vir die dag en 7uur begin werk. Maar toe ek nou so behoorlik wakker is en die donderweer so lekker saam gesels, vervroeg ek maar die kuier sessie. Dit was kosbaar en die tyd het ongemerk verby geglip. Toe ek sien, is dit 4uur en ek skuif reg vir ‘n bietjie oog toeknyp voor die dag eintlik begin. Ek sak terug in my kussing en wou net kyk of my oggend boodskap reg uit gegaan het, toe twee persone agter kom ek is aan lyn en boodskap stuur. Pleks slaap ek, klets ek eers ‘n bietjie en verkort my uiltjie knip aansienlik. Teen alle verwagtinge in, raak ek wraggies aan die slaap en skrik baie verward en vaak wakker – later as my gewone regmaak tyd. Oooo gonna, dis nie ‘n goeie teken nie.

My kop probeer vinniger dink as wat in sy huidige toestand moontlik is en faal liederlik. Ek besluit ek kan nie die bad skip nie ek moet boonop hare was en ordentlik probeer lyk want vandag kry ek kliënte van vroeg af. Oi! Dit begin weer reën en ek besef ek het geen idee waar my sambreel is nie, aangesien ek pas klaar getrek het en nog effe na goed soek. My natuurlike krulle en onweer werk gewoonlik saam om dinge te bemoeilik as mens nou sou wou ordentlik lyk. Om tyd te spaar gryp ek dus ‘n knyp knip en gryp ‘n spul onbeheerbare hare en knyp dit in die knip vas. Ek moet gou die fabriek gaan oopsluit en die manne bebid. Ek sal hare kom uitsorteer voor ek dorp toe moet gaan en dan is ek sommer netjies as die kliente opdaag. Ek grom vir myself as ek in die spieël kyk. Lyk nie te waffers nie maar daar is nie nou tyd vir regmaak nie! Ongelukkig hol die tyd weg en vergeet ek van die knip op my kop. Een van my verskaffers daag op heelwat vroeer as wat hy sou. Ek sien hy betrag my met ‘n frons maar ek het lankal die spektakel op my kop vergeet. Al wat ek aan dink is alles wat nog op my lys is en gedoen moet word. So ek steur my nie aan sy frons en jaag net deur die onderhandeling so gou ek kan sodat ek nog ander dinge ook kan inpas. Ai toggie, het ek maar eder my gesteur, dan was ek nie nou so verleë nie.

Ek was nog besig met die man toe baas met haar statige motor nader gery kom en vir my beduie. Ek stap nader en sien sy het sommer my kleingoed wat kuier ook by haar in die kar. Die trok moet nuwe bande kry en as ek klaar is met die taak waarmee ek besig is, moet ek dadelik ry. Hulle wag vir my. So vergeet ek van die knip op my kop. En ek ry. Net so. By die bande plek aangekom, groet ek vriendelik en beduie hoekom ek daar is. Hulle kyk my en kyk mekaar en dan weer vir my. Ek begin wonder maar hou myself rustig terwyl ek na die stoel toe stap wat my aangebied is. My oog vang my weerkaatsing in die groot glas langs my en ek sien die knip en verstaan die kyke. Ek voel hoe word my gesig warm. Nou is ek nog rooi ook. Nie ‘n goeie prentjie nie. Ai toggie.

My hand skiet vinnig knip se kant toe en ek probeer so onopmerklik moontlik sake beredder. Ek druk die knip in my handsak en vat vat dan aan die hare bo op my kop. Hulle lê min of meer plat en ek wikkel my vingers om te probeer orde skep. Dis nogal moeilik sonder ‘n spieël maar dit kan nou nie anders nie. Ek voel die hare loskom en kry die geur van skoongewasde hare en goeie sjampoo. Ek sug van verligting. Dit sal nou seker beter lyk. Ek het vergeet van die onweer en die se invloed op my krulle. En wat die knip se houvas veroorsaak het. Voor ek na die beeld in die glas kan kyk hoor ek iemand langs my en draai om om te kyk wie dit is. Die Tee dame voor my verstar met ‘n eejôh wat effortless oor haar lippe glip. Die vinnige voetstappe agter haar steek vas en verander in ‘n harde lagbui wat ander uitnooi om ook te kyk.

Ek weet nou nie waar om te kyk nie. Die mense wat regs van my vergader of die groot glas links van my. Die glas wen en tot my spyt is klomp ander gesigte ook sigbaar in die glas. Die sug wat oor my lippe glip kon die glas gekraak het. Voor my staan Mufasa in mens vorm, Maanhare die hele kop vol maar so breedvoerig gerangskik dit lyk of die weerlig die uwe raak gepiets het. Daar is regtig niks, maar niks wat die storie gaan beter maak nie. Ek voel bietjie soos die Israeliete voor die Rooisee met die Egiptenare in volspoed agter hulle. Geen pad gaan voor my oopgaan om my skaamte te verberg nie, dit weet ek met alles in my. En toe ek dit weet, in daai oomblik, klim ‘n dingemaling op my skouer en gaan ek oor tot aksie sonder om te dink wat ek doen….

In ‘n vloeiende beweging buk ek vorentoe, na die glas se kant toe. Dit gebeur alles baie vinnig. Ek druk my vingers deur my hare en vryf dit woes deurmekaar. Dan kom ek vinnig regop, draai ewe vinnig na die mense met my arms omhoog en my vingers saam getrek soos kloue. Ek wurg ‘n geluid deur my keel wat klink na iets tussen’ n leeu en ‘n zombie in pyn terwyl ek vinnig vorentoe tree.

Die arme, arme tee dame se eeeejôh verander in gille en sy vlieg opslag om en hol in die een agter haar vas wat nog ‘n gil veroorsaak. Niemand het dit verwag nie en daar is ‘n paar vloek woorde en uitroepe wat geen mens kan herhaal nie. Niemand lag nie. Met groot gesperde oë draai die hele groepie wat vir my staan en lag het dwars in twee verskillende rigtings en maak vir my ‘n pad oop nes die Israeliete se Rooisee. Die arme jongman wat Kameel se sleutels vir my wou gee het so geskrik hy laat val die sleutels. My bene beweeg sonder dat ek hulle hoef aan te praat, ek raap die sleutels op en gryp die faktuur uit sy hand. Dan storm ek op Kameel af. Baas het klaar betaal en dit sit veerkrag in my voete. Vlugtig en rats spring ek in Kameel en ry so statig moontlik weg terwyl ek skrams terug loer in die spieël na die Rooisee wat weer toe maak agter my.