.facebook_1569004900637.jpg3929055185290939502.jpg
foto geleen

Raar maar waar. ..

Ek kuier laas week by ‘n vrou wat ek al amper 30jaar ken. Kom ons noem haar Sterretjie. Ons was saam in die kinderdorp huisouers en het nadat ek daar weg is, vir jare lank nie kontak gehad nie. Sy was die eerste mens wat iets in my gesien het wat ek nie geweet het daar is nie, en dit hardop uit gespreek het. Sy het in my geglo en dit toe sy my nog maar pas ontmoet het en besig was om my te leer ken. Ek onthou die eerste keer wat sy my binnekant geraak het, was tydens ‘n groep sessie met ons maatskaplike werker. Die les vir die dag het gegaan oor vertroue. Ons is een vir een geblindoek en moes iemand kies wat ons deur ‘n hindernis baan lei net met ons stemme. Sy het my gekies en sonder enige draaie gesê dat sy my onwrikbaar kan vertrou. Ek weet nie was die meeste verbaas nie, ek of die ander in die groep. Dit het my laat dink en ook gemotiveer om juis betroubaar te wil wees. Ek het gewonder wat sy in my sien.

Die tweede keer was toe die Laerskool gesoek het vir ‘n spreekster vir hulle ma en dogter oggend, en sy my voorgestel het. Tot op daardie oomblik het ek nog nooit voorheen so iets gedoen nie en was ‘n stil, skaam introvert wat nooit sou kies om so iets te doen nie. Ek het geen idee hoekom die skool my genader het op haar woord alleen nie en wat haar laat dink het dat ek dit sou kon doen nie. Ek onthou nog hoe my hart in my keel geklop het en hoe gespanne ek was. Dit was ook sy wat my voorgestel het aan verf. En deur haar toedoen het ek ‘n teetuin se muruals geskilder. Ek onthou toe ek haar jare later “per ongeluk” in ‘n winkel raak loop, het sy kliphard, skaamteloos begin huil en my vas gegryp soos die verlore seun. Sy het kliphard erken dat sy vir jare al bid om my net weer te kan sien.

Nou sit ek voor Sterretjie. ‘n Gebroke, stukkende, siek Sterretjie. Haar man is ‘n paar maande gelede oorlede. Hulle was vir 43 jaar getroud. Hy was ‘n narsis, nes my gewese man. Prins charming voor ander, boelie as hulle alleen is. Vyftien jaar gelede kry hy ‘n massiewe beroerte. Ten spyte van hoe hy haar geboelie het, versorg sy hom getrou. Maande lank kon hy niks vir homself doen nie. Hy was bedlêend, verlam en kon nie praat nie. Na baie maande kon hy weer vir homself sorg en weer loop. Party naweke het hulle na my toe gekom sodat ek na hom kon kyk terwyl sy die naweek om slaap. Sy spraak het nooit herstel nie. Hy kon ook nie skryf nie maar het wel allerhande geluide gemaak en gesprekke gevoer met woorde wat geen sin maak nie. Ek was skaamteloos bly dat hy nie meer kon praat nie, in die hoop dat hy haar nie so kan boelie nie. Maar met sy stemtoon en lyftaal het hy sy tirades voort gesit en haar steeds afgeskil en rou gelaat. Genadiglik het hy nooit sy volle liggaamlike kragte herwin nie en kon hy nie sy aggressie fisies op haar loslaat nie, al was dit duidelik dat hy wou.

Ek het gedink sy sou verlig wees nou dat sy “vry”is. Maar sy is nie. Nie verlig nie en ook nie vry nie. Want sy sit nog met al die nagevolge van die tronk en mishandeling waarin sy vir jare vas gevang is. Omdat ‘n narsis sy prooi afskil en van menswaardigheid stroop, weet sy na jare se vernynige afskil nie meer wie sy is nie. Omdat haar lewe gedraai het om op sy ja en amen te reaggeer, weet sy nie hoe om buite dit te leef nie. Sy wat my geleer het wat verf is, kan nie ‘n kwas optel nie. Haar tronk bewaarder is weg maar sy kry nie die deur oop nie. Boonop het die jarelange teistering haar liggaam siek gemaak. Jare se gif maak dat haar liggaam nie meer wil funksioneer soos dit geskep is nie. My hart breek vir haar seer, haar verwardheid, haar bang wees en haar verlorenheid. Ek was ook daar, weet hoe dit voel.

Voor ek ry, herhinner ek haar dat sy my leer verf het. Por ek haar aan om weer haar kreatiwiteit op te neem. Ek sien hoe haar oë soek soek in myne. Verbeel ek my of is daar ‘n vlammetjie hoop? Dit is eers nadat ek weg is dat ek iets besef. Soos jare gelede in daardie groepie, is sy geblindoek en nou moet ek haar deur die donker terug lei na lig….