Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.

Hierdie bloguitdaging handel oor die nuutskepping van woorde, idiome en gesegdes in Afrikaans wat ‘n kultuurverandering kan voortbring of sommer net die leser / aanhoorder irriteer.

*************************************************************************

Sy sak trapsuutjiestadig op die reg-om-te-vallendelam houtstoeltjie neer. Een been dien as stut soos ‘n slordige bloubul skrum terwyl sy bewend vat na die mikrofoon. Dit is duidelik dat sy bang of senuweeagtig is. Sy trek haar asem rukkerig in en blaas dit stadig uit, asof dit haar heel laaste is. Haar oë soek deur die rokerige vertrek terwyl sy haar voet versit op die dowwe, deurgeslyte houtvloer. ‘n Verdwaalde kokkerot skarrel styfgeskrik eenkant toe.

Die driepoot houtstoel onder haar kantel afgrondgevaarlik as sy vorentoe leun, mond teen die mikrofoon. Haar oë knip stadig as sy haar mond oop maak om maskerlooseerlik haar lied te begin. “Ek sien jou nie meer…” kom die woorde rasperrou oor haar lippe terwyl die pyn in haar oë eggo. Die gehoor hang soos nat wasgoed aan haar lippe terwyl sy haar pynkreet in woorde en akoorde weergee. Behalwe vir haar stem wat dolkskerp aan elkeen kom krap, is dit grafstil in die swakverligte vertrek.

Wanneer haar woorde ophou is dit grafstil vir ‘n oomblik asof almal eers net moet sluk. Dan staan hulle op, versigtig, een vir een. Die applous begin stadig, afgemeet. Dan al hoe harder tot dit oorverdowenddawer. Kleuterskaam kyk sy af grond toe voor sy opstaan om die gehoor te groet. Agter haar begin die houtstoel kantel en val dan lewensmoeg vloer toe…