My kombuis is bitter klein. As ek voor my kas of wasbak staan, hoef ek net effe oor te leun en ek raak aan die kombuis deur. Ek hoef nie eers ‘n tree te neem nie of my hand uit te steek nie. By die deur is die trappies met my blombakke eenkant. Dit is hier waar kleinseun kom sit en karretjies speel as sy ouma besig is in die kombuisie. Tevrede om net naby te wees. Sou ek besig wees agter my rekenaar, sal hy net saggies inkom en agter my op die mat begin speel met wat ookal daar rond lê. Soos wat ek deur my klein huisie beweeg, vang my oog gedurig speelgoed wat rond lê, om my te wys kleinman was hier. En dit herhinner my aan ‘n geleentheid waar ek ‘n besonderse mens ontmoet het.

Jare gelede vra iemand my om vir ‘n siek tannie te gaan bid. Ons ry al die pad Pretoria toe daarvoor. Ek ken nie die mense nie en skoonsus begelei ons daarheen. ‘n Ou man maak die deur oop, reeds krom gebuig deur die jare – spore diep gesny in sy vel. Ek het hom net daardie dag ontmoet en nooit weer daarna gesien nie. Hy was toe reeds in sy tagtigs en leef seker nie meer. Tot my skaamte, kan ek nie sy naam en van onthou nie. Wat dit erger maak, is die feit dat hy ‘n bekende kunstenaar was. Hy het met pen gedoen wat ek geen ander mens ooit sien doen het nie en wat ek nie kan nadoen met potlood of kwas nie. Terwyl ek vir hom sit en kyk, het hy ‘n swart pen geneem en sy wit tekenvel nader getrek. Hy het net sonder berekening begin strepies trek oor die bladsy. Kort en lank, dik en dun strepe wat aanvanklik gelyk het na ‘n gekrap. Ek was vas genael en het amper asem op gehou om te sien wat hy doen. Aanvanklik was die hele bladsy net vol strepe. Maar soos wat hy weer en weer met sy pen oor en oor gegaan het, het daar geleidelik ‘n prent na vore gekom. Dit was onbeskryflik om die proses dop te hou. Hy het nie vooraf ‘n sagte potlood skets gemaak of buitelyne getrek nie. Hy het net oor en oor en weer en weer met sy pen oor die bladsy gegaan. Sy prent het stories vertel. Hy wys my een van sy voltooide werke en onderaan staan die titel: ‘n Plek waar kinders speel . Die reuse skets is van ‘n huis met sy agterdeur en die huis staan in ‘n bos met lang bome wat oral bokant die huis uit troon. Ek vra hom waar is die kinders dan? Dan wys hy met sy bewerige vinger na speelgoed wat vergete op die grond bly lê het. Dan sê hy, hulle het hier gesit en speel tot hulle ma hulle geroep het. Hulle eet net gou. Sy ogies het geblink en sy mond het amper weerloos en broos geglimlag. By nader kyk was die detail besonders goed geteken. ‘n Teddie met net een oog, vuil gespeel half ingeprop op ‘n hout sleepwa wat te klein is. ‘n Tol, klei osse en ‘n trekker waarvan die verf afdop. Jy sien in jou geestesoog hoe die kinders daar sit, met lig wat deur die bome oor hulle val. Jy hoor die gelag, mamma wat roep en die klap van die houtdeur. Dit was duidelik hy skets uit die spens van sy herhinnering en dat dit vir hom onbeskryflike vreugde bring. Elke keer as ek Liam se speelgoed sien lê, dink ek hieraan.

Omdat ek nie altyd kyk waar ek loop nie en maklik oor sy goed struikel, tel ek altyd op. Ek probeer ook hom leer om op te ruim waar hy speel. Maar soms glip hy weg, net so stil as wat hy gekom het en bly sy speelgoed agter. Soos die, hier op die trappie. Ek maak my oë toe en roep die herhinnering op van toe hy hier gesit het. Ek hoor weer sy gebrabbel en die geluide wat hy maak. Ek sien sy tenger lyfie en hoe sy ogies blink as hy opkyk en sien ek hou hom dop. Die asseblief in sy ogies as hy met sy klein handjie op die trappie klap en sê sit ouma. Ek hoor sy skater lag as ek gaan sit en saam begin speel. Veral as ek laf raak of nuwe geluide vir hom leer. Ek sien ondeundheid in sy ogies dans as hy my terg of uitdaag om hom te jaag. Die gevoel van liefde en teerheid wat in my opwel terwyl ek so staan laat my dink aan dit wat ek op die oom se gesig gesien het. Ek wens so ek kon soos hy iets so mooi vasvang vir altyd onthou. Ek maak my oë oop en besluit dat daardie speelgoed net daar gaan bly lê. Ander wat in my huis rondlê kan ek maar optel, maar hier buite, is my plek waar kinders speel.