
Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.
Dit is nog ses slapies see toe. Nig het my gehelp vliegkaartjie koop sodat ek vir die eerste keer in jare vir haar kan gaan kuier in George. Omtrent veertien kilometers van haar huis af, is my gunsteling plek. Victoriabaai. Die pad soontoe kronkel vredig tussen vele varkore in die veld, wat soos wit spatels verf vertoon. Varkore is ‘n liefde wat ek en oorle skoonma gedeel het en my altyd na haar laat verlang. Sy het ook naby die see gebly. Wanneer ek tussen die koppies deur ry, wil ek my nek rek om te kan sien hoe die water daardie dag sal lyk. Seegroen, my gunsteling kleur of blousel blou met wit skuim perdjies wat op die golwe ry. Om elke draai moet ek my kop doelbewus keer om nie skeef te draai, net om te kan sien.
Die beloning van mooi breek oop soos ‘n ryp granaat as ek om die laaste draai ry en die see sy arms wyd gooi in ‘n vrolike groet. Prentjie mooi. Golwe rol raserig rond,reg vir ‘n dag van swem en speel. Die lug skoon, oop en hemels blou met wit wolke soos spookasem balle by die skou. Links die berg, ruig met plante in skakerings van groen. Regs die ry huisies wat hul eie stories verbloem. Wanneer ek uit eindelik, my voete diep in die sand in woel en die koel water oor my voete spoel, maak ek my oë toe. My sintuie span saam om alles te voel. Die sagte seebriesie wat my wange soen, die geur van die see, die skreeu van die meeu. Hier is ek tuis, hier is waar nuwe lewe in my are invloei.
Ek onthou die eerste keer wat ek Victoriabaai gesien het. My krose was klein, nog net babatjies. Omtrent 33 jaar gelede. ‘n Maand na hulle pappa ons ingetrade het vir ‘n ander. Nie veel het verander, behalwe die kleur van die see. Of dalk die kleur van die huisies na ‘n verf of twee. Die plek nog dieselfde, maar ek nie meer. Toe was ek jonk,skraal maar onseker en gebroke. En nou, nou is ek sag, rond, dankbaar en heel. Net soos die see oor jare heen sy stories bymekaar gemaak het, het ook ek my lewensboek beskryf. Ja, kom kyk, die merke sit aan my lyf. Al het my lyf oud en swaar geword, is my gees so lig soos die wind. Sweef dit saam met die meeue want ek het diep geruik aan genade!!!!
Liefste Vuurtjie, of ek geslaag het aan jou uitdaging, dit weet ek nie. Ek dink die dag toe die onderwyser die les gegee het van assoneer en allitereer, was ek afwesig….
Bondels, dis so mooi, ek het saam gereis na Victoriabaai. Hoe mooi het jy vertrl van jou lewensreis en jou pad wat jy moes loop. Jy het nie die taalles nodig gehad nie…💐💖
LikeLiked by 1 person
Ag dankie tog!! Ek wens vandag ek het beter na my taal lesse en spel reëls geluister. Dankie dat jy my reis saam met my geniet💐❤️
LikeLike
Ek het gou vir Victoriabaai gaan soek op google en wat ‘n pragtige plek is dit nie! Het ook gaan luister na Lucas Maree se liedjie Victoriabaai (ek moet bieg, ek het nooit voorheen aan Victoriabaai gedink as ‘n “regte” plek nie – ek ken nie daardie deel van ons kuslyn so goed nie). Jy het mooi geassoneer en geallitireer Bondels en dis duidelik dat jy heel geword het sedert die eerste keer wat jy daar was. Ek is bly daaroor. Jy en Victoriabaai is albei mooi.
LikeLiked by 1 person
Dankie Hester jou woorde is vir my kosbaar. En jy ook🤗💝
LikeLiked by 1 person
So mooi, liewe Bondels! Ek was nou saam met jou op die strand en kon die wind in my hare voel en die branders hoor ruis. Jou lewenspad het gevorder tot by ‘n heerlike plek waar jy nou is. Jy verdien dit om weer jou voete daar te sit!
LikeLiked by 1 person
Dankie Bytjie ek sien uit. Ek sal jou hartseer daar in die see gaan los maak…
LikeLiked by 1 person
Jou beskrywings is wonderlik! Ek was net eenkeer by Victoriabaai en kon alles weer deur jou woorde weer sien.
LikeLiked by 1 person
Wonderlik dat jy ook weer dit kon beleef
LikeLike