Ek sit in ry 21A, by die venster. Die vlug is redelik leeg in vergelyking met die soontoe vlug. Toe was elke sitplek vol, geen social distancing van enige aard. Die plekke langs my is vandag leeg. Ek kyk by die venster uit en groet die Outeniquaberg met sy mis kombersie vir laas.

As die vliegtuig begin spoed optel en my terug druk in my sitplek maak ek vir ‘n oomblik my oë toe en sê dankie. Vir alles wat ek kon beleef maar ook vir die nuwe wat wag. Die vakansie was heerlik, ek is behoorlik bederf. Die beste van alles, kwaliteit tyd by my geliefdes. Die nuwe jaar wat wag is so naby en tog so vêr. Onbekende dinge wat wag maar ek het hoop.

Die vliegtuig swenk na links, beur deur die wolke en swenk dan na regs. Net soos ‘n dartelende swaeltjie in vlug. Die wolke soos uitgetrekte watte gee plek plek kykies na die landskap wat vinnig verander. Sommer gou is die pad en karre net ‘n strepie met piepklein stippeltjies.

My sitplek, reg by die vlerk gee uitsit na voor en agter. Vorentoe is ‘n groublou lug en agter las lappie kleure in bruine, groen en goud. Die wolke is wit en grys lae bolle en strepe en ek wens ek kon dit skilder soos ek dit nou hier sien. Oomblikke later breek ons deur die wolke en die grou word die diepste mooiste persblou. Die wolke nou soos spierwit bolletjies room uit ‘n spuit kannetjie. Agtertoe reik die berge na bo, met klowe in diepe skadu’s gehul. Ek wonder – dra dit dalk geheime en stories onvertel? Los drywende wolkies gooi skaduwees soos klein spokies oor die plato. Kontoere en rante gee vorm van alle kante. Dan trek mistigheid oor die landskap soos die sluier van ‘n bruid, met klein dorpies wat skitter soos diamante in die son.

Die wolke kom dan saam soos ‘n digte kombers, en die son breek deur met ‘n helder glans. Dit wink na my en gooi ‘n stralekrans. In die vliegtuig is dit meestal stil. Net nou en dan ‘n kleinding met ‘n kinder stemmetjie wat bokant die geruis uit jil.

Net gou is die vlug verby en begin die vliegtuig na onder toe gly in sy onsigbare baan wat weer deur die wolke gaan. Aankondigings word gemaak en die klank van die vliegtuig het merkbaar verander. Die paaie en karre word weer sigbaar en die grote bly verander. Ek sou nou wou uit leun met my arms uitgestrek en my vingers soos harke deur die wolke vleg. Soos ‘n klein kindjie op sy skoppelmaai agter oor leun, oë toe swewend in die wind.

Toe die pieng pong deur die klank sisteem kom kyk ek weer na die wolke, en my oë rek verstom! Nou lyk dit soos massas mense wat na my toe kom. Regop, in groepies my eie verwelkomings komitee. Dit lyk soos engele op die wolke wat wag op ‘n teken, dalk wag op Die Koms? Vreugde bars deur en pluk aan my hart. Maranatha, kom my Bruidegom kom!!