Ek sit voor my lessenaar in my knus klein woonstel terwyl ek die uitdaging lees. Ek hoef nie regs te draai om te weet wat langs my staan nie. ‘n Boekrak wat my nig gemaak uit met haar eie hande. Sy is ‘n kunstige, knaphandige vrou wat menige man sal skaam maak met dit wat sy met boor, hamer en enige manlike gereedskap kan optower. Sy kan ‘n graaf wat sy by die ashope gaan optel het, verander in ‘n muurbehangsel of nuwe muurlig, haar kunswerke is gesog. Hierdie spesifieke hangkas is gemaak uit dele van oorlede ouma se hangkas, wat na eeue se gebruik sy rusplek moes vind by ‘n houtmeubels -begrafplaas.

Nig se mamma, my pleegma het die hangkas ge”erf. Reinette Meyer, pastoor’s vrou, vermoor in haar eie huis in Potgietersrus. Dit, terwyl sy besig was om te pak vir ‘n sending uitreik waarop sy die volgende dag sou vertrek. Dit was destyds in die koerante. Nig het die kas versigtig uit mekaar gehaal en liefdevol begin verander. Met stensel en mengsel het sy patroontjies aangebring wat uitstaan. Daarna met wit chalkpaint versier. Toe sy klaar was het sy spesiaal ‘n woord geskryf, pynlik stadig en presies. MemoRhei.Sodat almal sal onthou. Dit was net reg dat ek die een was wat dit sou koop.

Op die boonste rak, is die boeke wat ek die meeste gebruik. Party al voos van al die gebruik, weer herplak en weer voos gebruik. Een (of is dit twee?) wys duidelike klein-honjie-tandmerke. Dis nou omdat ek soms op die vloer sal sit en lees of studie maak van iets, gou opvlieg vir een of ander rede en net nou weer gaan sit. Dit is in daai onbewaakte oomblikke dat hond se kind my boeke as tande-ring gebruik. My boeke lyk nie so omdat ek boeke nie respekteer nie, dit lyk so van opgebruik. En elkeen van hierdie boeke bring my grooooot vreugde.

Bo op is my Koedoe shofar met sy allemintige lawaai. Glo my, as ek hom blaas, word daar kennis geneem! Ook vir hierdie Shofar, is ek baie lief. Interressant, ek het die een by ‘n liefste vriendin persent gekry. En ons het dit gekoop by die einste Shofar fabriek waar ek gewerk het, maar jare voor ek daar gewerk het of die mense geken het. Die Shofar le op een van my taliette. Ook ‘n baie spesiale item. Ek gebruik dit nie baie nie. Wanneer ek dit wel gebruik, is daar ‘n baie spesiale koester oomblik aan gekoppel. Dit is my “do not disturb” sign. My “ek tabernakel” oomblik, my veilige vesting, my alles kan wag tydjie.

Terwyl ek so na alles kyk en bedink, sien ek hoe uit ou, afgeleefde hout, iets moois verreis het. En hoe daar uit iets wat oenskynlik seer en lelik moet wees, iets mooi verskyn. En wanneer die wereld met wreedheid ons van mooi mense ontneem, dat ek tog iets goeds, moois, bruikbaars en waardevol uit kan haal. Ek hoe nie regs van my te kyk nie, ek weet – daar staan my MemoRhei…