Met die geboorte van my kleindogter Janey, Woensdag, dink ek terug aan my lewe. Hoe ek gelyk het, gedink en doen het en veral gedroom het. Sou iemand my vra wat ek wil doen eendag as ek groot is, het ek klomp verskillende antwoorde gehad. Ek het elke tweede dag omtrent my planne verander. Natuurlik, eg in klein dogtertjie styl, het ek gedroom ek gaan ontwikkel in ‘n pragtige prinses. Ek sou ‘n aantreklike prins ontmoet wat mal verlief op my raak, trou en natuurlik vir altyd en altyd gelukkig lewe. Ons sou perfekte kinders hê, ons sou suksesvolle sakemense word met genoeg geld en alles van die beste.

Op sestig kan ek eerlik sê dat meeste van my kleindogtertjie drome nie gebeur het nie. Wel, life happened. My handsome prins het my verruil vir sy droom prinses. Ek het nie ‘n suksesvolle, ryk sakevrou geword nie. Ook nie ‘n prinses nie. My kinders is nie perfek nie….(wel, vir ‘n ma is hulle)

In Jeremia 29:11 staan geskrywe :” want Ek weet watter gedagtes ek aangaande jou koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.” Hoe kyk mens na skrif soos die te midde van al die hartseer en swaar in die lewe? Hoe maak jy met so skrif as jou hart breek omdat jou huwelik op die rotse is? Of as jy jou werk verloor? As jou pakket nie uitbetaal of jy nie die verhoging kry nie. As jou koskas leeg raak en jou besigheid vou? Hoe gemaak as ‘n geliefde sterf of gediagnoseer word met met terminale siekte? Wat maak jy as jou perfekte prentjie in mekaar val en niks eintlik perfek is nie?

In die Amplified Bybel klink dit nog mooier vir my :” For I know the thoughts and plans that I have for you, says the Lord, thoughts and plans for welfare and peace and not for evil, to give you hope in your final outcome” Hoekom gebeur “onheil (evil)” dan? Slegte goed soos egskeiding en dood is mos vir ons onheil /evil? Dit laat my dink aan die beskrywing wat mense vir sonde en evil gee – Missing the target. Wie se target? Watter target? Mense het ‘n prentjie geskets van ‘n veerpyltjie bord en om die middelste kern van die bord mis te gooi is sonde of evil. Bullseye. Toe nie. Sonde en evil is enige iets wat nie uit die hart van God vloei nie. As ek kyk hoe ek soms optree, maak dit my evil. Of my optrede dan. Ek kan nie en mag nie ander oordeel net omdat hulle ‘n ander “sonde” doen as ek nie. Onheil is nie net slegte gebeure nie maar volgens die verklaring is dinge soos skinder, veroordeel en bitterheid ook onheil. Nog minder kan ek God judge omdat my prentjie nie volmaak is nie. Of omdat “Hy iets toegelaat” het. Pfffffff! Hoe maklik sê ek dit nie. Hy het dit toegelaat!? Nee man! Is dit nie dalk my verskoning om nie eienaarskap te neem vir my eie verkeerde besluite nie? Hoekom altyd ‘n ander sondebok soek? Hoekom vir God kwaad word en beskuldig dat Hy nie ‘n teks soos die gestand doen nie? Hoekom jou rug op God draai of dink God straf jou?

Hy beloof nerens dat alles altyd sal goed gaan nie. Hy beloof nooit dat niks ooit sal verkeerd loop nie. Hy belowe nerens dat my perfekte prentjie gaan waar word nie. Hy belowe wel dat Hy saam met my deur alles sal gaan. En soos die Amplified se, hope in my final outcome. Elders in Sy woord belowe Hy, dat Hy altyd by my is, maak nie saak wat nie. Hy belowe Hy sal my nie deur iets laat gaan wat teveel vir my is nie. Hy belowe dat dit wat sleg voel vir my, Hy in ‘n geleentheid vir iets goed sal omskep as ek dit oorgee aan Hom. Gun God vir ons goeie goed? Ja verseker! Hy wil vir ons beter he en gee. Maar vir Hom, is dit vêr beter as dit met jou gees goed gaan, ten spyte van slegte goed wat gebeur. Dit is ver beter as jy jou eie wil en begeertes neerle en verruil vir wat Hy vir jou kies. My persoonlike ondervinding is dat Hy elke verleentheid in ‘n getuie en geleentheid verander het. Dat Hy my deur swaar kry en seer kry gedra het. Geleer het. Soos in ‘n gym, “getrain” het. My geestelike spiere gerek en gebou het, sodat ek in my geesmens kan groei en ‘n oorwinnaar kan word. Sodat my geesmens hopelik my vleesmens sal begin oorheers. Sodat ek meer en meer die fluister stem van ou sleepstert sal leer herken en nie vir al sy voorstelle sal val nie. Sodat “my final outcome” goed sal wees.

Sou dit vir my lekkerder gewees het as ek “my prentjie” gekry het? Miskien. Maar sou my final outcome dieselfde gewees het? Ek twyfel. Dalk het ek meer kere in my lewe dinge gedoen wat nie uit God se hart gevloei het nie. Dalk meer as ander mense. Maar deur Sy genade, vergifnis en hulp, kon ek na elke onheil opstaan. Kon ek daaruit leer,groei en sterker word. Al kan die lewe my steeds ‘n bloedneus gee, en my prentjie steeds nie volmaak lyk nie, het ek die versekering dat my final outcome goed sal wees. Dat ek sal eindig waar ek moet. Is dit ‘n valse hoop of kruk? Nee verseker nie. Dit is ‘n vaste wete en geloof in Hom wat Sy elke belofte aan my waar gemaak het.

Hoe kom ek deur dinge wat sleg is en ek nie verstaan nie? Jy erken dat dit daar is of gebeur het. Jy laat nie toe dat sleepstert jou ‘n maraton laat hardloop in jou kop nie. Jy kyk dit en dan kyk jy weg na jou Skepper God, al verstaan nie. Jy erken, Here ek verstaan nie maar ek gaan U vertrou. Jy erken, Here ek is swak en ek weet nie hoe nie. Jy huil, Here ek kan nie nog nie. Dan vee jy jou oë en neus af en jy sê dankie vir die genade wat steeds daar is. Jy leer jou lesse, jy groei. Jy is dankbaar vir wat jy het. Jy staan op en klou was aan die Onsienlike. Een oomblik op ‘n slag, een tree op ‘n slag, dag vir dag. En as jy dit nie vandag regkry nie, probeer jy more weer. Jy hou nooit op om op te staan en weer te probeer nie! Want Sy genade is genoeg en dit is vars elke dag.

Selah.