Dis vroeg oggend en die briesie is koud. Voor my is die oseaan, so wyd soos die Heer se genade. Die klein strandjie word amper afgesper deur die berg wat ‘n kom vorm, nes twee arms wat jou wil omvou en koester teen Sy bors. En tog kan jy ook vêr sien oor die diep diep oseaan wat van kleur verander hoe verder jou oog dit volg. Tot daar waar dit ‘n diep groublou streep trek en dit lyk of jy aan die hemel kan raak.

Die golwe volg ritmies en sonder ophou op mekaar. Voor gil ‘n klein golfie:” jy kan my nie vang……” en agter hom ‘n groter een:” hier kommmm ekkk”. Saam spoel hulle moeg maar tevrede uit in skuimbolle oor die strand. Dan strek hulle weer stadig, half teensinnig dieper tot die gety hulle weereens opslurp. Dieper en dieper en nog dieper. Seemeeu, dryf rustig en lig op as golf hom bereik. Nou en dan duik hy kop onder die water in sodat sy stertkant antenna maak in die wind. Op die strand is twee ander voëls wat ek nie ken nie. Moet een of ander soort Gans wees. Hulle staan ‘n klein entjie van mekaar af en loer die kant toe dan daai kant toe. Dan rek hul slanke nek en asof woordeloos afgespreek, vlieg albei gelyktydig op en vlieg gesinkroniseerd laag oor die water. Golf mis hulle rakelinks as hulle geluidloos eers hierheen dan daarheen swenk. Dan sonder waarskuwing styg hulle op en flapper op een plek. Ek wil amper asem ophou. Gaan hulle duik? Wat sien hulle, wat hou hulle dop? Net so vinnig vlieg hulle verder en verdwyn om die berg.
Die water lyk ysig. Ek sien nie kans om te gaan voel nie. Sukkel nog om oor pieperigheid te kom. Nat word is nie ‘n opsie nie. My toe neus maak dat ek nie eers die seelug kan ruik nie. Die eerste paar dae het ek net vanaf die balkon gekyk, darem vorder ek. Miskien oor ‘n dag of twee kan ek dit by die rotse waag. Vir nou, is hierdie genoeg. Om net hier te sit, te sien, te voel, te wees, is genoeg.
Afsonder en rus. Dit was die opdrag. Tot nou toe, slaap ek amper die dae om. Glad nie my aard nie en sou ek bedags slaap, dan glad nie as dit aand is. Maar nie nou nie. Ek slaap dag en nag. Tussen deur kom peusel ek op die balkon sodat ek weer medisyne kan drink terwyl ek na die see staar en die son se strale oor my streel. Vandag voel ek beter. Dalk more is daar meer krag.
Wat ‘n troos, die Woord wat sê, die wat op die Here wag kry nuwe krag. Ek wag, Here, ek wag met blydskap in my hart!!
Dis gelukkig ‘n mooi plek waar jy afsonder. Mooi beskrywing! Word gou beter.
LikeLiked by 1 person
Jy is reg, ek is so bly. Dankie Bytjie!
LikeLiked by 1 person
Pragtige foto’s Bondels. Luister na jou liggaam en rus totdat jy weer gesond voel. Soms is afsondering die antwoord …
LikeLiked by 1 person
Jy is reg Hester, ek luister
LikeLiked by 1 person
Bondels, soos altyd is jou beskrywings vol lewe. Ek sien uit na die dag wanneer jy op die strand loop met die fyn sand tussen jou tone.
LikeLiked by 1 person
Dankie Anne, ek sien ook uit. Is opgewonde oor wat kom maar wag ook geduldig tot dit tyd is daarvoor
LikeLiked by 1 person
Bondels, ek kan glo jy asem hierdie salige rustigheid diep-diep in. Jy is siek? Mag jou liggaam gou genees.
LikeLiked by 1 person
Ja ek het iets onder lede en vat dit een dag op n slag. Voel darem al beter. Dalk juis omdat ek rustig omarmd diep asemhaal en wag…
LikeLike
Vinnige beterskap, Bondeltjies.
LikeLiked by 1 person
Dankie tannie
LikeLiked by 1 person
Ai Bondels ek hoop jy sterk vinnig aan. Daardie moegheid maak mens klaar veral omdat mens nie gewoond aan so baie slaap is nie. Baie blyjy kry die geleentheid om op jou eie aan te ster. Mens se liggaan is wonderlik, hy vertel jou gou as jy ooreis is en nie gesond nie. Mooi bly en hope liefde vir jou.
LikeLiked by 1 person
Dankie Scrapy! Glo my ek rus. Die tyd hier is baie goed vir my. Tonne liefde
LikeLiked by 1 person
Word gou beter….siel en liggaam Bondels.
LikeLiked by 1 person
Dankie Woordjies. Liefde
LikeLike