Ek skryf hierdie blog na aanleiding van Net Ek se skrywe, ‘n paar dae gelede. Ek het redelik gebroei hieroor. Moet ek skryf, moet ek nie. Ek ken nie die agtergrond van haar verhaal nie, maar ek herken haar emosies, verbystering, verslaentheid en vrae. Haar woede. Want ek was daar. Nie in haar storie nie, maar my eie nagmerrie verhaal. Terwyl ek haar vrae lees, is dit asof sy van my praat en ek myself hoor en sien in haar verhaal.

Voor ek daardeur gegaan het, het ek nooit verstaan hoe een mens so ‘n mag oor iemand anders kan hê wat maak dat jy nie kan weg kom. Of dat jy so ‘n rat voor jou oë gedraai kon hê nie. Ek het geen begrip gehad oor narsisme, psigopaat of ander geestesversteurdheid nie. Nog minder oor watse psigologiese uitwerking dit op ‘n slagoffer kan hê nie. Dit was eers toe ek met dit gekonfronteer is en myself voel wegglip het van wie ek was, dat ek geweet het ek is in diep diep moeilikheid. Dit is toe wat ek hieroor begin leer het. Daardie tyd was ek nog op Facebook en het heel per ongeluk ‘n foto gesien wat perfek beskryf het waardeur ek gaan. Die woorde op die foto het elke karakter trek beskryf van die persoon wat my lewe soos ‘n klomp gekoekde drade deur mekaar gekrap het sodat ek nie weet waar is die begin of einde nie. Dit was soos ‘n vuishou teen my voorkop. Die woorde het my in ‘n warboel van gedagtes laat rond tuimel nes wasgoed in ‘n tuimeldroëer. Is dit wat my in die gesig staar? Is dit wat besig is om met my te gebeur? Is hierdie die diagnose van die persoon wat my so teister? Kan dit waar wees? Dae nadat ek dit gelees het en afgelaai het, het ek dit na iemand gestuur wat ek met sulke inligting kon vertrou. Ek het versigtig genoem dat ek vermoed dit is wat my in die oë staar. Sy reaksie het gemaak dat ek meer inligting wou kry. Ek moes weet waarmee word ek gekonfronteer op ‘n daaglikse, nee uurlikse basis. Dag in en dag uit. Ek moes weet waar kom dit vandaan en wat maak ek daarmee. Ek moes weet of dit kan verander en hoe. Ek het begin navorsing doen en hoe meer ek uit gevind het, hoe banger het ek geword.

Eerstens moes ek uitvind hoe slu en hoogs intellegent so persoon eintlik is. Ook dat hulle mense baie fyn waarneem en dan ‘n net span waarmee hulle jou kan vang en dan stadig maar seker stywer trek totdat jy nie meer kan wegkom nie. In my geval, het ek die persoon geken van sestien jarige ouderdom en was daar nooit enige tekens van hierdie versteurdheid nie. Of, eie aan die sulkes, was hy toe reeds ‘n uitmuntende toneel speler. Voor my was hy altyd baie charming en ek was ten volle oortuig dit is wie hy werklik is. Ek onthou eendag het ek ‘n vriendin gese hy was charming en sy het gestry. By hulle was hy nooit charming nie en sy kon op haar beurt nie verstaan hoe ek kon dink hy is charming nie. Dit het nooit by my op gekom dat hy toneel speel by my en dat dit nie is wie hy werklik is nie. Dit het nooit by my op gekom dat hy anders is by ander mense nie. Ek ken hom immers jare en dit is hoe hy altyd was by my, selfs tussen my eie gesinslede toe ons albei nog kinders was. Hoe moes ek geweet het dat hy elke geleentheid gebruik om inligting op te gaar net om dit later tot sy voordeel te gebruik. Hulle leer jou karakter ken, jou sterk en swak punte, jou gewoontes, liefdes en afkeure. Dan bou hulle ‘n denkbeeldige wereld waarin jy tuis voel totdat hulle jou vertroue gewen het. Omdat hy soveel van my geweet het, was dit maklik om my “te voer” met wat hy geweet het ek na smag, wat my laat blom, wat my afskrik. Hy het alles kunstig geweef in ‘n prentjie wat ek seker wou sien, wat ek wou glo. Mooi woorde en beloftes was vollop. Selfs “goeie dade” en sorgsaamheid. Is dit moontlik dat mens terselfdertyd oop oë en tog blindelings in so iets kan inloop? Ja dit is. Of anders is ek net baie dommer as wat ek gedink het.

Ek onthou Kameel het eendag na een van my skrywes oor die abuse gesê ek moet voorbeelde gee. Ek was versigtig om voorbeelde te gee in my skrywes omdat my ondervinding hiervan verdere trauma veroorsaak het. As iemand nie die stelselmatige aftakeling verstaan nie en watse effek dit op jou logiese denke kan hê nie, sal hulle nie verstaan hoekom dit wat jy vertel, vir jou as slagoffer “so erg” is nie. Telkemale het mense vir my gesê:”ag wat is so erg daaraan, baie erger goed het met my gebeur” Ek het besluit om liefs niks te se nie. Probeer hierdie prentjie verstaan: ‘n kind kom uit armoede en het heelwat maaltye gemis, die kind is rasend honger. Iemand koop vir die kind die aanlokkigste, geurigste hamburger en melkskommel. Die kind se mondjie kwyl, sy ogies blink en gretig tel hy die hamburger op om die eerste hap te vat. Net voor hy hap, vat daardie persoon die hamburger weg by hom en begin dit dan rustig, smullend voor die honger kind opeet. Stel voor ‘n vrou word verkrag, vertel dit vir iemand wat troos en dan opstaan en die vrou verkrag. Stel voor ‘n persoon wat ontvoer en gemartel is ontsnap en gaan vra hulp. En die persoon by wie hy hulp vra neem hom terug na die een waarvan hy ontsnap het. Kan jy raai wat gebeur in die slagoffer se denke, emosies en mens wees? Kan jy? Regtig? Min mense verstaan regtig. Min mense wil verstaan. Selfs naby mense het nie verstaan nie. Min mense weet wat alles gebeur het en het my redelik veroordeel toe ek uit eindelik genoeg moed bymekaar gemaak en gevlug het. En net soos Net Ek, het ek deur onbeskryflike woede gaan. Vrae het soos outomatiese geweer vuur deur my geskiet. Sommige vrae sal altyd onbeantwoord bly.

Genadiglik, anders as in haar skrywe, het niemand gesterf in my verhaal. Die geleenthede was wel daar. Die gefynste berou en sogenaamde bekering of verandering was deel van strategie om jou soos ‘n jo-jo op en af te tol. As jy ‘n goedgelowige is of net so vuisvoos is van al die gebeure, is dit ‘n sprankie hoop waarna jy gryp. Dit was egter nooit eg nie en het ernstige nagevolge gehad as jy daarvoor geval het. Mens wil so graag hoop dat die persoon wat jy gedink het hy is, wel bestaan. Dat die beloftes van ‘n happily ever after, wel vir jou bedoel was. Dat die beloftes wel nou uitgevoer sal word. Of net dat jy hopelik uit hierdie droom gaan wakker word en sien dit was net ‘n nagmerrie. Hierdie soort mens is ‘n briljante toneelspeler en kan gesoute beraders of geestelikes ‘n rat voor die oë draai. Al ooit die program Survivor gekyk? Ken jy die begrip blindsided? Dis ek daai. Nou, in nabetragting kan ek myself afvra: “hoe het jy dit nie gesien nie? Hoe het jy dit mis gekyk?” Net Ek se nuwe bruid is ook so geblindside. Dalk selfs die pastoor en sy vrou. Ek weet nie. Ek kan net vir myself praat.

Ek moes eers deur die woede werk. Ek moet daagliks ‘n besluit neem om nie weer woede toe te laat nie. Ek weet nie wat was die ergste nie. Die woede of die pyn. Die wantroue. Meeste van almal, was ek kwaad vir myself. Omdat ek nie gesien het nie. Omdat ek myself laat mislei het. Omdat ek myself nie beter gegun het nie. Omdat ek myself laat ompraat het. Omdat, omdat, omdat. But no more!! Toe ek deur die woede is en genesing begin, moes ek weer leer leef. Ek moes verder delf as ooit tevore. Ek moes myself in die oge kyk en eerlik wees. En toe moes ek besluit. Gaan ek ‘n victum bly of ‘n victor. Ek moes kies, beter of bitter. Ek moes kies om vir myself goed te wees en beter te gun. Toe ek myself begin los maak, het die lang pad na herstel begin vorder. Soms gaan maak my gedagtes nog ‘n draai. Onthou ek nog. Elke keer moet ek opnuut ‘n keuse maak. Dit is al baie makliker. Deur genade alleen. Dit is steeds ‘n proses. Daar is geen vinnige oplossings nie. Dit neem tyd, baie tyd. Eers moet jy jouself stroop van alles wat nie daar hoort nie. Dan moet jy kies om te glo dat dit wat oorgebly het, genoeg is om oor te begin. Dan moet jy begin bou aan ‘n nuwe lewe.

Hoekom hierdie skrywe as daar alreeds soveel genesing is? Want ek het onthou dat ek veronderstel was om hieroor te skryf. Daar was ‘n opdrag en ek weet my uitgewer wag ook hiervoor. Nie omdat ek meer seer het nie maar omdat ander nodig het om te verstaan. En ander se oë dalk sal oopgaan deur my skrywe. Want as jy nie weet nie, nie verstaan nie, sal jou nagmerrie nie eindig nie. Ek weet dit was nie vir jou maklik nie, Net Ek. Maar ek wil vir jou dankie se omdat jy geskryf het. Sodat ek kan onthou daar is iemand wat my storie moet hoor. Dalk het die tyd nou aangebreek dat ek kan skryf….