Na Sondag se diens voel dit of iemand my kragprop uit getrek het en daar geen energie oor is nie. ‘n Moegheid tref my dwars en ek besluit om te gaan slaap sonder middag ete. Eers slaap dan eet. Slaap ontwyk my en ek besef dis nie slaap wat ek nodig het nie. Ook nie kos nie. Wat dan…?

My onthou boksie val oop en ‘n spesifieke prent kom in my gedagtes op. Teken! Ek moet teken! Eers soek ek die prent in my gedagtes op my foon. Toe ek dit kry, besluit ek dis tyd om my kunsgoed uit te haal en af te stof. Al kan ek nie skets of skilder soos ek regtig graag sou wou nie, het kuns my nog altyd verkwik. Ek verstaan dit nie noodwendig nie en weet nie hoe dit werk nie maar dis waar. Wanneer ek baie moeg of moedeloos voel, kon so kuns sessie my laat beter voel. Dis nie al wanneer ek teken of verf nie, ek sê net..

Vandat ek hier bly, het ek nog nie of geverf of geteken nie. My plekkie is te klein en al my kunsgoed is in die kinders se motorhuis. My houttas met potlode, verskillende soorte skerpmakers en uitveers en vele van my sketse in allerhande grade van voltooing, my ander houer met olieverwe, kwaste en ander benodighede. Dan in een hoek staan my canvasse van alle grotes. Ongebruikdes sowel as onklaar stukke. Een daarvan is ‘n onklaar olifant wat storm, so groot soos ‘n deur. Net wyer. Die swewende arend is 98 persent klaar. Ek hou daarvan om aan verskillende stukke te werk op dieselfde tyd. Dit help my as ek terug kyk na ‘n stuk, te sien as iets iewers “af” is. Die canvasse is in bubblewrap toegemaak vir beskerming. Dis nogal moeilik om te verf of skets as mens nie plek het om te werk nie of as jy die canvas met nat verf moet beskerm teen klein kindertjies, honde en mense wat nie besef hoe sensitief ‘n canvas hanteer moet word nie.

Ek besluit om die skets aan te pak, daarvoor het ek nie teveel spasie nodig nie. Eers maak ek plek waar ek kan teken. Daarna moet ek die tas kry met potlode waar daar ook papier in is vir die skets. Dit is toe ek die tas nader trek van waar dit verskuil was onder ander goed wat ook in die motorhuis gestoor word, dat dit voel of iemand my met ‘n vuis op die hart slaan. Hier is groot fout, sien ek. Die tas van hout, is gemuf en krul op!! Dit is duidelik dat dit nat geword het. Dis nie muf wat jy net af vee en alles is reg nie. Dis muf wat deur alles gaan. Toe ek dit optel, val klomp potlode uit. Die skade is baie meer as wat ek aanvanklik gedink het. Plek plek het die hout gebars en uit mekaar getrek. Hierdie tas kan nie herstel word nie. Ek sit dit neer op die draad tafeltjie in die tuin en maak dit stadig oop. Totale verslaentheid tref my soos koue water in die gesig. Binne is my potlode so beskadig dat ek dit sal moet weg gooi. Dieselfde geld vir my papiere en sketse. Baie jare se bymekaar maak, honderde rande in die drein af. Honderde!!!! Ek wil huil…

Ek vlieg kort om en gaan kyk na my canvasse. Nie net is dit ook gemuf nie, iemand het swaar voorwerpe daarteen gesit. B E S K A D I G…. WEG GOOI…. Honderde rande, honderde ure, honderde emosies, honderde seisoene flits by my verby. Weg. Alles weg. Die laaste krag in my lyf loop uit. Ek weet nie wat om hiermee te maak nie. My emosies blaas af soos ‘n ballon wat allerhande kapperjolle deur die lug maak en pap op die vloer neerval. My lus vir teken val ook soos die potlode deur krake en toe ek uit eindelik probeer teken is dit ‘n totale flop. Gefrustreerd sit ek alles weg, dalk later het ek krag om deur hierdie ding te stoei. Buiten dat ek heeltemal uit oefening is, voel dit of my arms net bokant my skouerknoppe af gesit is. Is dit die einde? Ek het altyd geweet ek sal nooit ‘n beroemde kunstenaar word nie, maar ek het dit geniet.. Soms het ek gehoop dat as ek klasse kon neem en meer tyd daaraan kon spandeer, dat ek ook dalk inspireerende kuns sou kon bemeester. Is dit nou klaar? Is dit die einde van my kuns? Wat ek hier verloor sal ek nooit kan vervang nie. Nooit nie. Nie aan geld of tyd nie. Ek weet dat ek die sketse wat verniel is nie weer sal aanpak nie. Al was daar ‘n rede hoekom ek elkeen begin het.

Dis al wat oor is…..

Paar dae later skraap ek al my moed bymekaar. Weer maak ek die boks oop en met pynlike deeglikheid haal ek een vir een ding uit, vee af, bekyk. Gooi weg. Sit een kant. Emosies vlieg soos dartelende swaeltjies deur die lug en gaan sit hoog op ‘n wiegende takkie. Ek probeer my gedagtes dood druk. Ek wil nie dink nie, ek wil nie voel nie. Die een vraag bly terug kom. Is dit klaar? Is dit die einde van my kuns? Ek het nie die geld of tyd of kapasiteid om alles te vervang nie. Ek sal van voor af moet begin of ophou. Dalk is dit tyd vir iets nuuts begin? Ek het nog nie die antwoord nie….