Woordnoot skryf oor tien sente ‘n paar dae gelede. Ek vertel haar ek het ook ‘n storie oor sente en sy por my aan om ook my storie te skryf …

Baie jare gelede is ek manloos, karloos en geldloos. Ek en my twee laerskool dogters bly uit eindelik weer in ons eie blyplek. Ek het weer werk maar kry ‘n karige loon. Geld en goed is skaars maar ons het mekaar en is gelukkig en tevrede. Soms is wat ons het te min en moet ons plan maak. Van goed verkoop kan ek jou baie vertel maar dan word die ‘n lang skrywe. Planne maak het nuwe betekenis gekry.

Altyd eerste was; wat het ons in die huis om iets mee te doen. Soos die weduwee se kruik. Fudge maak en verkoop by die skool. Grondboontjies wat ons persent gekry het ‘n suiker lagie gee en skool toe om daar te verkoop. Koekies bak met die bietjie wat daar was. Een van my prente opveil of uitloot. Net vir daai iets wat moet of nodig is. My dogters leef dit nog steeds. As iets kort, kyk hulle altyd eers wat in hulle huis het om te gebruik. Hulle weet van planne maak en geld of kos rek. Ek is so trots op hulle albei.

Dit was nogal rof. Daar was kere wat daar ‘n klop aan die deur was en as ek oop maak, was daar kruideniersware in sakke en geen mens in sig. Eers het ons twee fietse gehad. Daarmee het die 2 dogters skool toe gery. Ek moes baie kilometers stap. As ons kerk toe of winkels toe, moes een saam met my op die fiets ry. Ek het later ook ‘n fiets gekry en ‘n mandjie voor aan laat sit vir bagasie en kruideniers. Dit was ‘n hoogtepunt om in gelid agter mekaar iewers heen te ry. Net soms, kon ons drie, een koeldrank koop in ‘n klein glas botteltjie en het uitasem langs die pad gestop en saam in die gras of op die sypaadjie gaan sit en al giggelende geteug aan die koeldrank. Tot vandag toe is koeldrank in ‘n klein glas botteltjie vir ons ‘n baie spesiale geleentheid. Ons sal dit soms koop en deel, net om mekaar te herhinner.Toe was daar nie ekstra ponde aan my lyf nie en was ek lekker fits. Miskien moet ek weer ‘n fiets kry.

In daai tyd het ek agter gekom hoeveel geld mense laat val. Twee sente, vyf , tien en twintig sente. Maar daar was soms ook rande. Ons het oral geld op getel waar ons dit sien lê het. Skaamteloos. Ons het naderhand ‘n spesiale blikkie gehad waarin ons dit gesit het. Ons het nou nog daai blikkie, dit was nog nooit weer leeg nie. Dit het die brood betaal as daar nie meer planne was nie. En op rare geleenthede, ‘n lekkergoed vir die dogters. Elke keer as ons ‘n munt daarin gooi, het jongste alles eers sorgvuldig getel. Ek onthou een keer was ek saam met ‘n Streeks bestuurder weg vir ‘n vergadering. Toe hy my tuis besorg, wou hy opslag die dogters ontmoet. Die oomblik wat ek die deur oop stoot, het jongste die blik om gekeer om te tel. Sente het oor die vloer gerol tot by die man se voete, tot my grootste skaamte. (Dit was eers heelwat later wat ek hieroor kon lag) Hy het my nuuskierig aangekyk en ek het probeer voorgee dat dit die natuurlikste ding onder die son is. Maar heelwat later het hy op ‘n verduideliking aan gedring en het ek skaam skaam vertel. Nie lank daarna, het ek verhoging gekry

In daai tyd was daar nog baie vyf sente in gebruik. Dit het toe nog iets beteken en ‘n klompie daarvan kon nog ‘n brood betaal. Dit was ook die munt wat die meeste laat val is. Dit het vir my ‘n teken van hoop geword. Elke keer wat ek een sien, het ek dit opgetel en as ‘n teken gesien. Soos die reenboog. Ek sal Okey wees, al is dit met sente, ek sal versorg word. En ek was…

Heelwat later het vyf sente al hoe minder geword. En ek het nie meer nodig gehad om geld op te tel nie. Ek soek nie meer geld op die grond nie, maar ek tel dit steeds op as ek een sien lê omdat dit my herhinner aan die Goedheid wat my deur gedra het. Dit herhinner my steeds aan dae wat baie swaarder was. Dae waarin daar heelwat minder was. En dit herhinner my aan hoeveel ek het om voor dankbaar te wees. Dit herhinner my dat daar mense is wat swaar kry en soms ‘n geldjie sal wil optel…

Vandag sien ek nie meer vyf sente rond lê nie. Eintlik al ‘n geruime tyd nie. Deesdae is die kleinste wat rond lê, tien sente. Ek skat ek het geupgrade…