Gister kom slaap oudste en haar gesin by jongste en haar gesin. Dis ‘n vrolikse gejil en lag en speel wat hierdie ouma se hartsnare streel.

Jongste gaan koop kosgoed en stapel dit op mekaar. Sy kom staan voor my. Kan mamma iets hiermee maak vir ons? Ek kap en kerf, sny en strooi, sommer so holderstebolder. Sonder resep of plan. Die stoompot staan en giggel en maak dans passies. Die reuk begin mense nader lok en kwyl bekkies kom nader om te snuif en te hoor hoe lank nog.

Wouwa glimlag stil tevrede oor die kreune van lekker kry en die klap van lippe. Haar hart spin gelukkig soos ‘n tevrede katjie. Die klein porsie eters eet hulself knuppeldik.Tot seuntjie lyf wat gewoonlik kapsie maak smul gulsig.Lanklaas kon ek almal gelyktydig bymekaar hê en met een van my brousels  gelukkig en tevrede sien smul.Wouwa se hart sing sy eie harmonie, al die liefielywe bymekaar onder een dak op een slag.

Miah en Cara kom slaap by ouma in haar tuin woonstel. Vroeg oggend se roetine is skoon deur mekaar, alles holderstebolder. Bidtyd kort geknip en die drie lywe dans al om mekaar in die klein spasie. Nou en dan glip ‘n giggel of ongeduldige knor uit. Toemaar wat maan ouma, wees rustig. Alles sal okay wees. Dankie Wouwa, sê sagte dogtertjie stemmetjies en druk hulle teen ouma se sagte lyf aan. Ouma kam hare, maak pap, help reg trek. Alles effe deurmekaar en meer onordelik as gewoonlik.

Nog ‘n laaste druk en duisende gooi soentjies maak ‘n ouma se hartspens vol toe hulle ry. Die sterre glimlag stil stil saam as ouma terugdraai en die deur agter haar sluit. Bedjies krom en skeef op gemaak, goeters wat orals rond staan uit plek uit laat Wouwa sommer diep lekker kry. Dit vertel ‘n blye en dankbare storie dat hier liefie lywe was met arms vol liefde en lekker kry….