In ‘n vorige blog het ek geskryf van al my kuns goed wat skade gelei het. Dit was om goeie afrikaans te gebruik, ‘n gatslag. Ek kies om nie te lank daaraan te dink of te kerm en kla daaroor nie. Dinge gebeur. By gesê, ek moet nog my canvasse gaan uit sorteer en weg gooi, daarvoor het ek nog nie tyd of krag voor gehad nie. Dalk more iewers……

In die blog het ek ook gewonder of dit die einde van my kuns seisoen is en of dalk die begin van ‘n ander. Blogmaats het getroos, goeie raad gegee en voorstelle gemaak. Scrapy sê doodle. Ek moes Anne se link eers volg en gaan kyk wat ‘n kuns-joernaal. Dit was baie indruwekkend. Ek het nie besef hoe wonderlik mense hiermee doen nie. Ek was uitermate beindruk deur albei hierdie kunsvorms. Ek het vir my ‘n boek en paar penne gaan koop. Ek het reeds lintjies en blommetjies en mooi maak goete gehad in my geskenke kas, waaroor ek ook lank terug geskryf het. Ek het weer bietjie hoop gehad, iewers sal ek tog weer ‘n uitlaat klep he. Maar dit het heelwat moed en tyd geneem voor ek daarby uit gekom het. Die boek het op my lessenaar bly lê soos ‘n ding wat my wil bespring. Ek het dit ‘n paar maal oop gemaak en net weer toegeklap. Ek moet eerlik wees, ek het nog nie veel gedoen nie. Dit is nog vreemd, dit het nog nie in my lyf kom lê nie, Dit voel nog soos nuwe vreemde skoene wat mens moet inloop.

Die dag toe ek die boek gaan koop het, het ek op ‘n paar plekke gaan kyk of ek so hout tas sien as wat ek gehad het vir my potlode. Ek eil nie potlode en goed last rond lê nie, dit hoort in ‘n tas of ‘n ding. Ek het mismoedig huis toe gegaan. Ek vermoed in Hatfield is daar ‘n plek wat so tas sal verkoop, maar dit is te vêr om te ry, net om te gaan kyk. Dit is een van daai soort winkels wat jy met geld moet aanpak en baie tyd ook moet hê. Ek het baie jare gelede daar potlode gaan koop maar weet nie of die winkel nog bestaan nie. Boonop het ek sy naam vergeet. Maar eendag se eendag as ek niks het om te doen nie, gaan ek ry en kyk. Net nog nie nou nie. Ek onthou toe ek die eerste keer daar was.Dit was sekerlik vir my soos ‘n kind in ‘n speelgoed winkel. Nee nog beter want in ‘n speelgoed winkel kan daar nooit sullke reuke wees nie. Die winkel is opgedeel in klein afdelings. Ek onthou die rakke en rakke vol potlode. Ek het kort kort een op getel, om en om gedraai, geruik, gevoel hoe dit in my hand lê, op gehou en sy kleur in die lug bewonder. Neer gesit en ‘n ander skakering op getel. Ek was op ‘n wolkie en het gesukkel om af te om. Die winkel assistente, drie om presies te wees, het kort kort kom kyk wat maak ek. Oor en oor gevra of ek reg kom en of ek hulp nodig het. Seker gedink ek steel. Ek het kort kort klein suggies gegee van pure lekker kry. En toe kon ek nog nie eers waffers teken nie. Nog ‘n afdeling het olieverf gehad met der duidende soorte kwaste en olies en dinge wat ek nie eers geweet het wat mens daarmee maak nie. O daai reuke, ek kan dit nie eers beskryf nie. Ek is mos ‘n reuk mens, ek loop en ruik aan als. Die regte reuk gee my hoendervleis. Ja,ja ek weet….. weird…

Buiten die hartseer storie op my blog skryf, dink ek nie ek het dit vir baie ander mense vertel nie. Ek dink ook nie baie mense weet dat ek hou van teken en verf nie. Nie gemeente mense nie. Ek het nooit opleiding gehad nie, en doen dit meestal net vir my eie lekker kry. Ja, en soms frustrasie. Miskien as ek opleiding gehad het, sou ek nie so gesukkel het nie. Ek weet nie van tegnieke en sulke goete nie. Ek doen net wat vir my lekker of mooi is. Dit vat my soms jare en jare om iets klaar te maak, juis omdat ek so sukkel. Ek kan ook nie enige ding teken of verf nie, die prent moet met my praat. As ek na ‘n foto kyk moet dit my soort van gryp. Dan sal ek dit iewers bere en kort kort daarna kyk. Totdat dit my lyf vol lê, dan sal ek eers begin teken. Van die mense wat weet ek teken het al baie male vir my fotos aan gestuur wat hulle glo ek kan sal kan teken. Ek weet gewoonlik dadelik of ek dit gaan gebruik of nie. Dan sal ek dit bere of weg gooi. Dit was met my trek hierheen, net oor die 9 maande gelede wat ek juis ‘n klomp goed weg gegooi het wat ek al jare en jare bere. Ou verwe en papiere ook. Ek het geweet my plek hier is te klein vir alles. Miskien is dit hoekom hierdie slag so erg was, ek het reeds alles weg gegooi wat ek moes. Dit wat oor was, was min maar ordentlike goed en materiaal wat ek verseker sou gebruik en ook klaar maak.

Saterdag kry ek navrae oor die goeters wat ek gebruik. Ek antwoord maar voel hoe my hart nog styfskop. Soos ‘n wildeperd wat sy nek so ruk ruk in ‘n toom. Ek weet nog nie of ek weer wil begin nie. Liefmens wat sy is, steur sy haar glad nie aan my gebrek aan entoesiasme nie. Ek kan nie onthou dat ek haar vertel het van my gatslag nie. Dalk het sy by haar ma gehoor, albei in die gemeente en ma se bestie. Ek het soveel mense leer ken vandat ek hier is en soveel oor verskillende mense geleer. Nie alles lekker goed nie maar dit was verseker ‘n baie interressante reis tot hier toe. Ek is heelwat “gestretch”, wat baie nodig was. Laat middag word ek genooi om na die diens Sondag, by hulle koffie te drink. Hulle huis net langs ons klein huiskerkie. Gewoontlik na die diens is daar paar mense wat eers met my wil praat terwyl al die ander koffie drink. Dis hierdie einste gesin wat dan vir my uit hulle eie uit koffie maak en saam met beskuit aandra. Is dit die kosbaar nie? Hulle kyk na my, hulle gee regtig om. Sondag help ek gou al die drinkgoed bere sonder dat ek saam drink. Ons stap oor en die koffie reuk kielie my neus. Ma se bestie druk ‘n sakkie in my hande en toe ek daarin loer, sluk sluk ek aan die knop in my keel. Canvas, kwasse en “woodless colour pencils” glimlag vir my. Ek sluk want ek wil nie voor hulle huil nie, ek weet ek gaan nie gou stop nie. Liefmens se dogtertjie druk nog ‘n sakkie in my hande. Kwaste, sketsboek en ‘n duursame stel regte egte charcoal potlode, uitveer en skerpmaker!! Ek het nie woorde nie en ek moet regtig hard stoei met die knop in my keel. Ons gaan nie toelaat dat jy ophou nie, is die boodskap. Meer nog, ons is vir jou lief, jy is vir ons kosbaar. Jy moet ‘n uitlaatklep he. Ons gee om!!! My hart word sag, sag, sag.

Nuwe potlode of verwe het my altyd geinspireer om iets te probeer. Ja, ek het aan die potlode geruik. Doer diep binne het ‘n bekende lekkerkry geroer en hoop het op gevlam. In my verbeelding hoor ek hoe die charcoal oor die papier kras. Ruik ek die reuk en voel ek hoe dit verpoeier onder my vinger as ek dit in skakeer. Dankbaarheid stroom oor die walle van my hart soos ‘n rivier in vloed. Nou moet ek net eers ‘n prentjie kry wat my gryp……..