Dit is eintlik vir my moeilik om te skryf oor my Israel reis. Ek kan nie soos met ander reisigers hierdie keer ‘n klomp fotos van plekke en interressante gebeure vertel nie. Wel, dalk een of twee. Maar die groot ding van Israel, is dit wat binne gebeur met my. Wat Almagtigste toelaat om te gebeur. Daaroor kan mens nie veel skryf nie, dit is eder bedoel vir ‘n gesprek met iemand wat oorkant jou sit en jou in die oë kyk. Iemand wat wil hoor. As jy daardie iemand is, kom kuier tog maar.

Israel is ook nie net ‘n losstaande plek of gebeurtenis wat ek half apart kan beskryf nie, dit is ingevleg met die res van my lewensreis, dit wat elke dag met my gebeur. Of ek hier in Brits sit of daar in Pretoria ry. Dit is soos ‘n biesie mandjie wat strepie vir strepie ingevleg word. Iewers tussen Brits en Pretoria, lê Israel. Net so regs van daar, lê Victoriabaai.

Ek moet julle lus maak met die mark, waar ons ook ons aankope gemaak het. Meeste toeriste sien nie hierdie deel nie. Dis mal verby. Die nou stegies is volgeprop met mense wat oor en weer kibbel en skreeu. Hierdie Babelse lawaai kan jy etlike state vêr hoor. Produkte word bekyk, betas en selfs geproe. Dan word daar hewig oor die prys gestry tot albei partye tevrede is. Sommige mense sal proe en stry oor die prys net vir die genot daarvan, met geen intensie om te koop. Die stegies is nou en oorvol, jy moenie dink jy gaan haastig hierdeur. Mense sal nog so staan en argumenteer, net om die volgende oomblik saam te lag en tevrede uit mekaar tee gaan. Jy dink hulle baklei en die hare gaan waai, maar dis selde die storie.

Maureen het uitstekend gevaar met die hele gekwibbel oor pryse. Sy het menige jood die loef afgesteek. Ek het eenkant gestaan en die storie gade geslaan met giggels wat kort kort uit glip. Veral as Maureen haar hebreeus effe verkeerd het maar met soveel gusto en opregte vriendelikheid en oorgawe praat dat die jood twyfel of hy reg geleer het. Geen jood was bestand teen die mooi vrou met haar pragtige glimlag.Ek het lekker gekry tot in die vêrste punt van my hakskene. Maureen het my gereeld laat skater as sy dinge ander name gee of nuwe, snaakse, hebreeuse woorde uit dink. Dit het effe konsternasie veroorsaak onder die jode maar sy is vinnig vergewe omdat sy so ‘n sonnige persoonlikheid het. Dalk het my vinnige “slicha” (sorry) ook bietjie gehelp. Ons altwee se bree glimlagte het beslis opgemaak vir ons gebrekkige hebreeus.

Terwyl ons van kos praat moet ek sê hulle roomys en pastries is legendaries en ons het ons behoorlik vergryp. Hulle het ook ‘n wafel winkel wat ek elke keer besoek. Dit is bekend as een van die top wafel winkels in die wereld. Genadiglik het die baie loop gekeer dat al hierdie lekkernye aan die lywe kom vasklou. Ek hoop…

Drie van die dae wat ons daar was, was dit shabbat. Dan is die mark toe. So ook alle joodse winkels. Daarom het ons vooraf gesorg dat ons genoeg (teveel) proviand het. Die enkele plekke wat jy wel kry is vêr en uitsonderlik en behoort dan ook aan nie- joodse eienaars. Op shabatte werk tot die robotte glad nie. Geen publieke vervoer werk nie. Van son onder tot half agt die volgende dag. Jy loop as jy moet iewers heen of neem ‘n huur motor wat aan ‘n arabier behoort. Hulle is seep glad en mens wonder of jy nie iewers in ‘n harem gaan land nie. Dus vermy ek hulle gewoontlik. Maar ek moet byvoeg dat ek in Israel baie veiliger voel as in Suid Afrika. Ons stap orals tot laat aand sonder bedreiging of intimidasie.

Die fotos hier onder wys ligter oomblikke. Maureen verander Israel se stasie, inwoners kuier by ons, Maureen wat dryf op die dooiesee en ek wat die speel fietse trap. Die fietse is oral in Israel, en is gekoppel aan die paal. Party het waaiers op, ‘n ander grammefoon en dromme . Wanneer jy die fiets trap, begin die ding daarbo blêr, waai of slaan. Die volume of spoed het te doen met hoe vinnig of stadig jy trap.

Alhoewel ons baie geloop het, en ek gesukkel het om te slaap met al die lawaai van die mense wat Sukkot feesvieringe geniet, was daar ook heelwat geleentheid om te rus. Op die shabatte het ons meestal tuis gebly en gerus. Ons het ook leeringe op Youtube geluister of lekker gebid. Ons het ook heelwat tyd op ons stoepie spandeer deur mense dop te hou want die stroom mense was nimmer eindigend. Van die lekkerste tye was wanneer ons tussen die plaaslike inwoners gaan sit het. Daar het dan mense by of naby ons kom sit en met ons begin gesels. Met gebroke engels, hebreeus en baie hand gebare, het ons menige prettige oomblikke gehad.

Maureen het menige maal na my verwys as haar toergids. Maar vandag het ek iets te sê oor Maureen, wel wetende dat sy nie hiervan gaan hou nie. Sy het gesorg dat ek ‘n behoorlike vakansie geniet. Ek het gereeld koffie in die bed gekry en my kos is gereeld agter my aangedra. My wasgoed of ander goed verskuif en opgevou. Ek is gedurig bederf met geskenkies en bederfies. Ek was nie hieraan gewoond nie en het soms half verdwaas gestaan. Gewoonlik is ek die een wat dit vir ander doen. Seker maak almal is oky. Hierdie keer was dit anders om. Ek het my Vader gereeld dankie gesê vir al die bederf en ook vir die instrument wat Hy gebruik het. Mag die saad wat jy gesaai het honderdvoudig na jou toe terug kom. Sela.