Dit was ‘n moeilike week. Vir verskeie redes. Uitdagings was baie en maklik was min. Vanoggend staan ek moeg op maar dankbaar dis Vrydag! Vandag is ‘n korter besigheidsdag. Dankie tog! Ek moet twee plekke in Pretoria besoek vir die besigheid en ek ry met Kameel die trok. Besigheid verloop glad en ek ry dankbaar terug plaas toe. Alhoewel Kameel maklik bestuur is dit stremend om ‘n bokspringende trokkie te bestuur met ‘n moeglyf. My lyf kla en my kop dreig met sufheid. Ek stop by die manne om die bokse af te laai en sommer te hoor of alles reg verloop het terwyl ek weg was. Die terugvoering is positief maar toe ek Kameel in turat sit sê Josep, but Madam…. Ek kyk hom, watse gebut madam is dit met hom? Da Courier came wif da parcel. ….

My kop werk oortyd. Dis vroegmiddag, my gewone Courier wat ons pakkies kom haal en bring, kom eers na 4. Ek het niks nêrens bestel nie. Eers beduie ek hy moet maar kyk en besuit dan daarteen. Hy bring dit vir my dat ek kan kyk of dit wel vir ons bedoel is. Die boks is duidelik gemerk vir my en toe sien ek die afsender besonderhede. Dierbaarste, kosbare vriendin!! Ek begin giggel, ek dink ek weet wat is in hierdie pakkie! Ek vergeet sommer van moeg wees en moeilike week. Wanneer laas in my lewe het ek iets in die “pos” gekry. JAAAAAAAREEE laas. Eers bere ek Kameel, laai af, sluit oop plak alles neer. Dan gaan maak ek eers ‘n draai by die fabriek om seker te maak alles is in orde. In my haas om onder toe te gaan en weer terug, laat lê ek my sleutel iewers en die veiligheids deur klik hard agter my toe. Ek wil sommer huil. Ek toets alle ekstra sleutels vies vir myself. Uitgesluit buite my woonstel. Toets nommer hoeveel vir die week!!!!! Ek gaan sit radeloos op die stoel en vra die Veilige Gees wat om te doen. En sowaar as wat ek hier tik, Hy sê vir my “gaan vra die huurders of hulle nie nog een van jou sleutels het nie.” Ek weet hulle het nie. Maar so weet ek ook Hy is die slimste in die hele heelal, so ek stry nie. Ek gaan vra half verleë en half geamuseerd en baie nuuskierig om te sien wat gaan gebeur. Nee, antwoord hy maar vervolg maar ek het ander veiligheidsdeur sleutels, dalk pas dit? Ek gaan probeer en raai…..Jip, DIT PAS!!!!!! Slimste in die heeeeele wereld, sê ek jou.

Toe ek uit eindelik weer my aandag aan die boks kan gee, is my nuuskierigheid in die rooi. Ek gaan opslag tee maak, so seker is ek weet wat is in daai boks. Eers knip ek die plastiek versigtig van die boks af (doos is lelik, boks klink beter). Dis wraggies met properliese geskenk papier toegedraai, soos ‘n rerige erige persent. Ek klap sommer hande en lag soos ‘n klein dogtertjie. Hierdie is deksels spesiaal, al sou daar net ‘n blaar in wees. Iemand het aan my gedink. Iemand het genoeg van of aan my gedink om my te wil verras met ‘n onverwagse persent. En dit dan nie net sommer so te gee nie, maar met sorg, netjies toe te draai! Soos ‘n regte persent. Ek maak die boks oop en loer nuuskierig of ek reg is. My mond val oop, my keel trek toe en ek huil soos ‘n klein dogtertjie, oorweldig deur haar geskenk.

Hierdie is nie net ‘n persent nie. Dit is ‘n wel deurdagde, goed gekose, fyn beplande, self uitgesoekde, liefde oorlaaide geskenk. ‘n Regte egte, Wouwie, jy is spesiaal, ek is lief vir jou geskenk. Dit wat ek gedink het dit gaan wees, is wel ook daarin, maar veel veel meer as wat ek kon verwag. Dit lyk soos ‘n regte Wouwa gelukspakkie!

wp-15968140734822026827720679762803.jpg

Goeters vir my geskenkie kas, tuisgebakde (want jy is my tyd werd) beskuit. Beker met my voorletter. Pienk sleutelring (min het liewe vriendin geweet myne het gebreek) met ‘n groot B, vir Bondels Bederf Blessings. Lewendige plantjies!!! Ek was verstom, een had nog ‘n blommetjie aan. Skryfboek met ‘n tong in die kies houding, Coaster set met die soort goeters op wat ek self sou kies! Die mooiste kaartjie met ‘n regte egte mens briefie binne in geskryf!!! Alles in my hartstaal geskryf. My beker loop oor.

DierbaarsteSlimste, Veiligste Gees, het geweet Sy meisiekind kort ‘n persoonlike “I love you honey!” – bederf en toe vertel Hy vir kosbare, gehoorsame vriendin. En bless my uit my skoene reg in die naweek in. Baie baie dankie, liefste Vader van my en liewe maat. My beker loop oor…..