Ek sit op die gemakstoel langs jou bed en hekel. Sagte aanbiddings musiek speel en maak jou rustig. Jy het ingesluimer en jou slaap word soet na die spuit. Morfien werk nie meer nie en maak jou benoud. Suurstof deur die pypie maak jou neus yskoud. Net ‘n kleine asempie, dis al.

Jou krag so min, jou moed so groot. Hoe kom ‘n mens met long kanker uit die hospitaal waar jy boonop Covid saam vat as bagasie? Hoe kom jy deur en oor die covid, reeds so swak. Jy het dit gemaak maar jou krag nou so min. Net vel oor die been, niks meer as dit. Ek smeer jou lyfie met room, mirre en frankincense. Eens was jy ‘n pragtige vrou, pikswart hare, laggende diep bruin oë. Snoesige lyf, meer nog as ek. Weg, dit is alles weg. Jou hare, steeds dik en mooi, in silwer grys getooi. Al wat ek herken is jou diep bruin oë.

Ons praat oor die lewe en toe die dood. Dit wat jy voel nader kom. Ek wil weet, en jy sê my. Ons kom ooreen, omdat almal weet, enige iets kan gebeur. Sou ek op pad huis toe more, voor jou sterf, wag ek vir jou by die hek in ‘n blye pynlose weer ontmoet.  Maar as ek jou more groet en jy vat kortpad voor my, wag jy vir my by die hek.

Jou man onbeskryflik teer, geduldig liefdevol, genadig, sag versorg jou met diepe dankbaarheid. Ek verstom my, daar is geen ongeduld. Niks. Saam pak ons jou toe met liefde. Maak seker jy weet. Jou kinders bel van oor die see, jou beker loop oor. Ek sien jou oë. Ek sien jou. Maat, ek sien jou!!

Ek trek die stoel se hefboompie en dit vou oop. Ek skuif af om ook te rus. My oë wil toeval maar my ore bly oop. Ek luister   hoe jy asemhaal -net ‘n asempie . . .