Eers speel die wind liggies deur die bare. Dit lyk soos duisende hande wat waai. Dan gee die wind ‘n vriendelike pluk en der duisende blare tuimel na die grond. Dit lyk na goue reën. Ander sweef en sweef van hier na daar en vertoon sy kleure en vorm spoggerig op die lugstrome net soos ‘n sweef kunstenaar. Ek snak na my asem oor die mooi vertoon terwyl die ysige wind blare soos musiek note op die wind versprei.

Iewers in Die Woord staan geskryf : ” Creation declare the Glory of the Lord”. Ek sien dit orals aangeteken, Sy lof word luidrigtig besing. Die wind waai sy note, die stroom sing die akoorde. Ek sien dit in die bossie goudgeel blomme weggesteek in die lang winter gras. Ek sien dit in die strepe op die baba Zebra se bas. Dit wys in die saadjies van die langsteel bossie gras.

Ek staan in die veld terwyl die winterson om my verflou. Strepe in vele skakerings van bruin, geel, grys en goud – asem snakkend mooi. ‘n Skildery vou oop voor my, ‘n beeld om vir altyd te onthou. Die hele skepping wys na Hom, Sy skoonheid, goedheid en krag. Die Koning, Skepper Heer. Uitbundig bevestig voëls, krieke en paddas dit saam, in hul simfonie wat Sy naam beaam! Van die kleinste grassie by my voete tot die boom daar vêr op die berg en horison bring Hom lof en eer. Ek sien die kleure, teksture en vorms – ek ruik die gras, die water en selfs die stof. My menswees loop vol, dit voel of ek bars. Dankie vir oë wat sien, ore wat hoor en ‘n neus wat kan ruik!

Wanneer die koel aandluggie ons huis toe jaag en die honger aan ons magies knaag, steek ons die kaggelvuur aan! Voor die vuur so wonderskoon en die pragtige huis waarin my vriende woon – sien ek daar ook Sy hand van seen! In my hart is ek so dankbaar vir die tyd, plek en mense wat Hy vir my leen.