Dit het my drie en ‘n half jaar geneem. Ek het hierdie kombers begin toe ek nog getroud was. Dit was vir hom bedoel. Hy het dit spesiaal so gevra. Patroon loos. Gemaak van al die los wollietjies en afval stukkies. Sommer so, saam geflans. Nie soos die komberse wat ek gewoonlik hekel nie. Kleure noukeurig uitgesoek, vier wat mooi inmekaar vloei en bymekaar pas. Sewe rytjies, netjies, las die volgende kleur aan die einde van ‘n ry. Begin nuwe kleur op die punt. As al die kleure gebruik is, spieelbeeld terug. Nee nee, las so in die middel, geen niks wat netjies op mekaar volg. Sommer net so deurmekaar spul. Reg so. Toe tref die pôpo die fan voor die kombers klaar is….

Hy het eintlik gevra ek moet dit klaar maak en steeds vir hom gee. Eers het ek die kombers diep weg gebere, nie seker wat om daarmee te maak nie. Ek het te vêr gevorder om los te trek of net te los. Maar klaar maak en vir hom gee? Haaikonna, ek weet nie so mooi. Dit het lank geneem voor ek weer kon begin. Eers gebroke en ja kwaad ook. Maar met elke steek pleit ek vergifnis af, bid ek. Baklei ek. Soebat ek al weet ek nie altyd waarvoor nie. Vir hom en vir my. Ek praat met elke steek. Hoe verder ek gevorder het, hoe meer het ek geweet ek kan nie dit vir hom gee nie. As narsis sal dit sy wapen teen my word. Kontak punt wat ek wou vermy. Toe gaan ek maar biddend verder, want hierdie kombers moet iemand kry. Eers dink ek dit moet Oompie sin word. Totdat ek agter kom Oompie besteel my. Ek hou aan hekel tot die kwaad uit my is en die kalmte kom. Die stil word. Die heel word. Ek begin bid vir wie die kombers moet kry. My deurmekaar kwaad wees, heel word kombers. My eina die lewe boelie en breek kombers. My hou aan en word beter kombers. Die Sagte Stem por my aan: “maak klaar”. Ek maak die kombers klaar, ook sommer met ‘n klomp ander goed. Goed in my gemoed, gedagtes, genesing. Ek spoel die kombers sagkens uit en onthou genesing kom in lae. En ek is dankbaar daarvoor. Ek bere die kombersweg tot eendag heelwat later toe die Stem my vertel wie die kombers moet kry…

Die kombers gaan aan ‘n kosbare vriendin en ek gee dit paar dae voor haar operasie. Dit word haar ek-is-bang kombers. Ek onthou my eie bang wees. Dit word ‘n velletjie wat sy om haar kan draai voor en na die operasie. Sy, ook ‘n gebroke mens- besig met heel word na liggaam en gees. My stukkend, seer kombers help haar teen haar eie koue en seer. En net soos wat ek steek vir steek heel geword het, draai sy haar eie genesing om haar vas. Toe ek gaan kuier sien ek met blydskap hoe die kombers goed gebruik word. Met einste kombers om haar gedraai vertel sy hoeveel kere dit vir haar ‘n troos was. Sy weet presies hoe hierdie kombers gebeur het. Die wete kom lê knus in my hart, uit my seer het iets goeds gekom en alles verander vir my. Ek kon gestop het. Ek kon die seer en bitter daar diep in die kas loop weg bere het saam met die half klaar kombers. Maar Allerliefste het dit nie toegelaat nie. Uit my lelik haal Hy iets moois. En in my verleentheid, skep Hy geleentheid. Uit al my los bolle en torrings en drade weef Hy iets moois aanmekaar. Solank ek Hom toelaat, om klaar te maak…..