Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.

Erna se woord skildery kom maak heerlike herhinneringe in my los. Nes die woord “woordwarrel” wat hulle gebruik, warrel lekker kry gevoelens in my op terwyl my oë oor die woorde dans. Ek staan eensklaps in die plaashuis se waskamer, daar waar ma altyd die melk af geroom het. Die roomafskeier was groen aan die buitekant met stukkies swart wat deurkom daar waar die jare se gebruik al sy merk gemaak het. Dis vroeg oggend en my neus se punt is yskoud. Langsaan op die skoon geskropte tafel, staan die silwer emmers met louwarm melk, vars uit die uiers van ons koeie. Elke emmer het ‘n spierwit moeselien doek oor sodat geen vlieg daarin kan duik nie, Op die grond onder die tafel, staan die silwer melk kanne reg vir die melk wat oorgegooi gaan word. Pa sal later die kanne op sy plaas bakkie laai en gaan aflewer. Op die rak bokant die tafel is die glasbottels waarin die room gegooi gaan word. Die bottels en kanne is almal blinkskoon gewas. Die vloer is nog nat van die was en skrop voor daar met die melk gewerk word. Elkeen wat hier wil inkom, dra silwerskoon wit gumboots.

Ek kyk verwonderd soos soveel kere in die verlede, hoe ma die eerste emmer lig en melk oorgooi in die afskeier met sy twee tuite voor sy die slinger begin draai. My klein dogtertjie kop draai en wonder hoe dit werk dat die dik room so stadig eenkant uitloop en die dun melk anderkant. Ek ruik diep aan die geure van vars lug, louwarm melk en mamma wat sagkens na blomme ruik. Dit laat my veilig voel. Selfs al klap mamma my hand speels weg as ek my vinger onder die room tuit deur trek vir ‘n proeselkie. Het jy die honde al kos gegee?, vra sy terwyl sy haar hande aan die voorskoot afvee. Önthou dis vanmiddag Volkspele roep sy agterna as ek draf om die honde kos te gee, net voor ek moet klaar maak vir skool. Die skoolbus kom haal ons plaasjapies net hier onderkant by ons plaashek wat skeef op sy skaniere lê.

Volkspele! Ek onthou hoe ons op die ou afrikaanse liedjies gedans het in ‘n kring. Daar was altyd drie of vier sulke kringe waarvan een die grootmense se kring was. Partykeer, afhangend van watter dans uitgevoer word, was daar ‘n binne kring en ‘n buite kring. Ek onthou tan Hessie se witperd en daar kom die wa.Vir ‘n klein dogtertjie was dit effe grillerig om met ‘n seun te dans. Hulle is mos net van kniekoppe en terg aanmekaar gesit. Japie, wat met my moes dans, het altyd ‘n soen na my gemik as ons kom by “hiers ‘n soentjie vir jou”. As ek dan koes, verloor ek die ritme en bebodder ek die hele spul wat saam dans. Ek hoor nog sy skaterlag as ek vuriglik bloos en na hom klap. Maar o jitte, daardie mooi rokke wat ons gedra het tydens vertonings of geleenthede was die soort wat menige klein dogtertjie in ‘n prinses verander het. Pof moue en rompe wat wyd kan draai en daarmee saam kant kappies vir spesiale geleenthede. Die seuns het sulke vrolike serpe om die nekke gehad waarvan die kleur gewoonlik dieselfde is as die dogter saam met wie hy dans se rok. Musiek het kliphard oor luidsprekers gespeel en kort kort hoor jy vrolike gelag. Later, steek hulle vure aan vir braaivleis en word daar vrolik verder gekuier en sommer gewone danse gedans dat die stof so staan.

Hoe vêr voel daardie tyd nou. En hoeveel het gebeur en verander sedert my klein dogtertjie tyd en nou. Tog, is daar steeds iets van daardie kind in my. Daar is steeds die hoop dat my generasie ook mooi herhinnerine kan nalaat wat tot Woordwarrels kan lei….