Ek is besig om my rekenaar skoon te maak en onnodige goed of “ou” te verwyder. So kom ek af op hierdie storie wat ek in 2014 geskryf het en aan verskeie tydskrifte gestuur het vir moontlike publikasie. Ek is formeel laat weet hulle publiseer nie sulke soort stories nie….

Dit is half moeilik om te glo dat ek al meer as ‘n jaar in hierdie oulike tuinwoonstel bly. Dit gebeur nog daagliks dat ek my verwonder aan hoe lekker dit is om hier te bly en hoe mooi dit hier is. In ‘n stil woonbuurt in Pretoria, boonop baie naby my werk, het ek ‘n holte vir my voet gekry.

Die woonstel is so gebou dat daar ‘n tuintjie aan die agterkant is sodat ek ook privaatheid het. Beide die woonstel en die tuin is baie netjies en word goed in stand gehou. Die mense by wie ek huur, bly in hulle huis aan die voorkant van die erf. Dit is goeie gawe kerkmense, oulike mense wat hou van die goeie kwaliteid en wat die lewe hulle kan bied.

By my slaapkamer is daar ‘n skuifdeur waardeur ek na die tuin kan gaan. As ek uitstap na die tuin, is daar eers plaveisel van omtrent ‘n meter breed wat ‘n paadjie vorm rondom al die geboue op die erf. Al langs die paadjie is daar ‘n randbedekker van een of ander lae struik gewas, wat weekliks gesnoei word. Dan strek ‘n pragtige groen grasperk uit tot teen die beton muur aan die einde van die klein tuintjie.

Net voor die muur, het ek my opvou kruie tuintjie, met toestemming van die eienaar staangemaak. Dit is nog ‘n jong tuintjie met nog baie plek vir kruie, maar ek kon al gebruik van dit wat daar is. Daar is ook ‘n klein ronde dammekie wat eens op ‘n tyd ‘n fonteintjie was.

Ek sit graag op die plaveisel in my opvou kampstoel met ‘n lekker beker koffie, vroeg in die oggend of koue koeldrank laatmiddag. Op my kampstoel kan ek die hele tuintjie bekyk en het ook ‘n pragtige uitsig op die berg. Links van my, is daar ‘n kleinerige maar netjiese hok wat lank ongebruik was. Dit is nou die tuiste van twee klein wit hoendertjies, Mnr en Mev Silky.

Die hoendertjies is te oulik en ek het my al verkreukel aan al hulle mannewales. Hulle was nog baie jong kuikens toe hulle onverwags hier opgedaag het. Saans word hulle in die hok toe gemaak en bedags skrop en kloek hulle die hele wereld vol. Saam saam beweeg hulle rond, van kleins af reeds ‘n paar. Hulle koddige klein lyfies soms versteek agter die struik net om net nou regop te kom en met gerekte nekkies vir my te loer. Hulle veerpootjies het nie lank wit gebly nie en steek sleg af teen die spierwit donsagtige “onderveertjies”, wat skaam skaam vir mens loer as hulle koppies sak. Hulle is ook baie stil hoendertjies met goeie maniertjies en gewoontes. Dit is eers ‘n paar wekies gelede wat meneer haan sy stem ontdek het en dit gereeld oefen elke oggend presies kwart voor vyf. Gelukkig, vir ons altwee se goeie welsyn, is ek reeds wakker daardie tyd van die dag. Dit sou dalk nie so goed met een van ons gegaan het indien dit nie die geval was nie.

Mnr Haan se hormone begin nou ook ontwaak, sien ek. Iewers in sy binnegoed, word daar iets vir hom gefluister van opklim, maar hy weet nog nie mooi waar en hoekom hy moet opklim nie. Dit veroorsaak redelike konsternasie vir die hen wat gereeld wonder hoekom daar nou ‘n bondel vere in haar pikante gesiggie gedruk word en dan opsluit sommer met poot en al oor haar geloop word. Arme Mev Hen is ook so klein dat sy nie veel meer kan doen as om angstig rond te skarrel. Haar ou stemmetjie is ook kwalik meer as ‘n gepiep, so om hulp roep kan sy nie en boonop weet sy nie eers of sy moet. Jy sien, Mev Hen is as jong kuiken wreed weggevat van haar ouers af en die laaste terugflits is van waar haar pa so op haar ma geklim het en boonop hard op die kop gepik het. Niemand het haar ooit verduidelik nie…..

Ek vermoed Mev Hen is ‘n hoender so na die Meester se hart. Dit lyk of sy verstaan wat in die skrif staan van ‘n sagte en nederige gees asook om onderdanig te wees. Ek kan ook dieselfde se van Mnr Haan. Hy verstaan Kolesense drie wat praat van jy moet lief wees vir jou vrou, of hen dan in die geval. Hy verstaan ook van eer mekaar en dat hy die broodwinner is. Hy sorg mooi vir haar. Sodra hy kossies gewaar, roep hy haar en sy kry  eerste kans om te eet. Dis net die opklim storie wat hy nog nie mooi kan uitsorteer nie, maar is geditermineerd om ook daar te slaag in sy roeping.

Die moeilikheid het ‘n paar dae gelede begin, toe die baas van die huis, en hoenders, se kroos op vakansie gaan en hulle werfhen hierheen bring vir veilige bewaring. Min wetende watse onmin sy sal veroorsaak! Henniepen is ‘n gewone rooi lêhen. Ek kan egter sien dat sy dalk nie so goeie opvoeding gehad het nie. Sy het die gewoonte om enige tyd en plek ‘n eier te lê en onversorg alleen agter te laat! Sy is ook baie raserig en net op haarself ingestel. Sy is een van daai soort henne wat nie omgee wie in die proses te na gekom word nie, solank haar behoeftes eerste kom. Sy dring haar orals in, of sy welkom is of nie. Met tye lyk dit vir my of sy net te dom is om te weet wat sy doen.

Groot was my ontsteltheid toe ek haar gister in my liefdevol versorgde kruietuin gewaar! Sy skrop sonder enige versigtigheid en laat my na my asem snak toe ek my jong seldery deur die lug sien trek. Opslag het ek haar verjaag en mooi beduie waar skrop oral verbode is. Sy is egter ‘n hardkoppige hen wat haar nie laat intimideer deur ‘n vrou wat haar met een probeerslag in ‘n Mike Schutte hoender kan verander nie. Verder het sy die verwaandheid om by my traliedeur te probeer inkom terwyl sy my al skreeuende in ‘n rasper stem beduie waar sy dink David die wortel begrawe het. Sy maak so ‘n lawaai dat ek naderhand ‘n boek teen die tralies vas slinger. Sy skrik haar vere skoon deurmekaar terwyl sy iets doen wat soos ‘n split lyk en in ‘n toestand van paniek holderstebolder die pad vat. Net om ‘n paar minute later weer terug te keer. Soos ek sê, sy lyk nie baie slim nie. Soos dit vir my lyk, is sy boonop lui ook. Sy is veronderstel om een eier ‘n dag te lê, maar doen dit nie! Verregaande!

Wat my egter die meeste ontstel van Henniepen, is hoe sy haar kom in wurm het tussen ons geliefde Silky paar. Dit wat eers baie subtiel begin het, het nou gegroei na oop en bloot vrypostig! Ek sien meer en meer die verwydering tussen Mnr en Mev Silky. Hulle skrop nie meer heeltyd sy aan sy nie, en ek sien Mnr Haan se kop al  hoe meer draai na Henniepen. Soms word hy in sy gees herhinner aan die regte pad en skrop hy eiwerig vir Mev Hen. As hy ‘n happie kry, roep hy Mev Hen nader wat dan op haar kort beentjies nader trippel. Heellaas, voor sy haar regmatige plek kan in neem en vat wat haar toekom, storm Henniepen soos iemand wat beserk is op die paartjie af en raap dit voor Mev Hen se bek weg! Hoe sy dit regkry om met haar plomp lyf so vinnig te beweeg, is bokant my vuurmaakplek! Sy wurm haar behoorlik in tussen die paartjie en stap dan weg asof sy niks verkeerd gedoen het. Beskeie, sagmoedige Mev Hen het telkemale stilswyend weggedraai sonder om op te staan vir haar regte. Sy het ook nie verstaan watse slinkse hen sy mee te doen het nie, anders sou sy sekerlik harder gewerk het om haar haan te beskerm teen die listige planne van die bose. Ons weet mos almal dit is een van die ou sleepstert se grootste strategieë om paartjies uit mekaar te dryf en hy sal enige instrument gebruik om dit reg te kry.

Soms is dit ‘n indringer soos Henniepen. Soms is dit, soos Mev Silky, ons eie onkunde wat maak dat ons nie in gebed ons manne toemaak teen die vernynige aanvalle nie. En soms is dit, soos Mnr Silky, omdat ons manne nie God se Woord leef en doen nie. Want as Mnr Haan Silky die Woord geleef het, sou hy weet daar staan geskryf ;”weerstaan die satan en hy Sal van jou af wegvlug!”

Soms is die indringer ‘n vrypostige hen, of haan. Soms is die indringer ons eie ongeneesde seerkry verlede of die sluk van ‘n happie wat nie vir ons bedoel was nie (soos Henniepen). Daardie happie is baie maal verwyte, bitterheid of onvergewensgesinheid.

Maar hoe nou gemaak. Ek is bly jy vra! Wat my aanbetref, het ek my seldery opgetel, terug geplant en nat gegooi. Daarna het ek my kruietuin beskerm deur voorsorg te tref teen indringer henne. Henne wat skrop opsoek na ‘n sappige wurm, wat heel moontlik nie eers bestaan nie en net skade agter laat in die proses. Henne wat aanhou skrop en skrop as jy hulle nie wegjaag nie en wat bly terug kom om jou tyd te mors en bloeddruk onnodig opjaag. Wat Mnr en Mev Silky aanbetref, is dit weereens terug na die Woord! Eerstens, verwyder die kwaad (skies Henniepen maar jy moet waai!). Dan is dit tyd vir belei en vergewe. Laastens, ondersoek die Woord en sien wat Vader van jou verwag in jou rol en doen dit. Hou op rond kyk en wag, begin jy en maak reg wat jy kan!

 Hoekom? Goeie vraag! Want anders slaap jy eersdaags alleen op jou eie stelasie en is daar geen meer goeie kruie oor!

 

Teen die tyd wat Henniepen uiteindelik weer weg is, was die verwydering tussen Mnr en Mev Silky aansienlik. Sy was nou al gewoond dat sy meestal alleen moes rondskrop. Ek was opslag lus en slag Mnr Silky! Toe hy besef sy loshennie is weg, begin hy erg vlerksleep by Mev Silky. Soos dit ‘n goeie hen betaam, moes hy maar eers bietjie sweet voordat sy hom weer kon vertrou! Sy het hom seker eers goed die vere voorgelees! Mnr Silky was oorstelp van blydskap en kon nie meer rondskrop en kloek en voorsien in al Mev Silky se behoeftes nie. Dit was sommer gou dat hy begin  pronk en flikkers gooi!

Hy het homself skoon bespotlik gemaak! Die oomblik wanneer die opklim hormone begin jaag deur sy hoenderare, het sy uitbundige stert vere na ‘n punt getrek – natuurlik Mev Silky se kant toe. Dan begin hy trippel in haar rigting. Sy mannewales het my bietjie laat dink aan ‘n dronk visserman wie se voete in vislyn verstrengel geraak het! Soms het sy hom so staan en bekyk, asof sy ook wonder wat hom makeer. Ander kere het sy hom effens ignoreer en dan sagkens ingegee. Sommer gou het hy sy taak van die hele opklim roeping reg gekry en vervul. Mnr Silky was in sy element en geen haan kon trotser wees nie. Ek moet sê Mev Silky het baie kere in die kort onderbreking van haar skrop proses, gelyk of sy wonder wat nou gebeur het. So asof sy wonder “is that what its all about?”

Wel, dis ‘n paar weke later. Mev Silky het verdwyn en Mnr Silky lyk baie alleen en beteuterd! Hy skrop hier en daar, kloek verwoed, rek sy nek maar als verniet. Mev Silky is nerens te sien nie en reaggeer nie op sy uitnodiging om sy nuutste fonds met hom te deel nie. Ek begin soek maar kry haar nie. Ek begin dink die bure se kat of hond het haar gevang. Mnr Silky haal sy frustrasie uit op die duiwe en ander voels wat hier kom kos soek. Hy bestorm hulle asof hy ‘n kwaai hond is en verjaag hulle asof hulle oortree het. Hy moet nou net nie begin blaf nie….

Kort daarna begin dit een middag na werk baie hard reen. Ek hoor ‘n lawaai soos sinkplate wat val en loer uit. Inderdaad het ‘n sinkplaat van erens af langs die hoenderhokkie beland. Daar lê ook ‘n gebreekte dakteel. Nou is ek erg verwonder, soveel so dat ek gaan ondersoek instel toe die reen bietjie bedaar. Groot was my verbasing en blydskap, toe ek op Mev Silky afkom! Sy het haar piepklein lyfie tussen die hok en die lae struikheining ingewurm en vir haar daar ‘n nes geskrop! Sy is sowaar besig om te broei! Die sinkplaat is seker deur die huis eienaar daar gesit om haar te beskerm teen wind en weer, aangesien sy buite die hok broei!

Vanoggend is dit Shabbat en ek sit,heerlik en Woord lees op my kampstoel net buite my kamer. Mnr Silky kom groet en kla vreeslik oor sy alleenheid en dat hy so afgeskeep word. Sy geklaery word opslag kort geknip met ‘n geraas by die sinkplaat!Die volgende oomblik,gebeur dinge baie vinnig en tog voel dit asof ek fliek kyk in stadige aksie! Mev Silky verskyn van agter die sinkplaat, Mnr Silky bestorm haar bly en Mev Silky begin hardloop! Ek het regtig nog nooit twee sulke hoendertjies, so vinnig sien beweeg nie!

Duidelik moes hierdie hele storie voorheen gebeur het want Mev Silky was reg vir Mnr Silky! Sy trek daar weg en hol skoon onder Mnr Silky uit, wat hierdie keer regtig oor sy pote val soos daardie dronk visserman! Hy kom verwonderd regop en kyk vervaard rond na waar sy moontlik kan wees maar begin ook terselfder tyd hardloop, pardoems binne in die heining in! Jy sien net vere trek!

Intussen is Mev Silky al by die dammetjie besig om water te drink asof sy jare in die woestyn was! Ek kan na dese se ek weet hoe ‘n dors hoender lyk! Nou ja, Mnr Silky wou graag sy verleentheid oorkom en wou dadelik sy vermoë as broodwinner bewys deur te begin skrop en kloek. Dit sou kon werk as hy net nie in sy oor ywerigheid, Mev Silky se kop in plaas van die grond begin krap het nie. Weer trek Mev Silky weg en begin hardloop soos geen atleet haar kan nadoen nie – reguit oppad na my toe! Sy hol tot onder my stoel en staan en maak geluide wat gin mens kan verstaan nie. Ek staan gedwee op en gaan haal vir haar hande vol beskuit krummels. Toe ek dit vir haar neersit naby my,dink ek dat ek eers die groot stulkies moes kleiner breek maar heellaas, Mev Silky bestorm daardie groot stukke met verbysterende ywer en ek sien met skok hoe die grootste stuk in daai klein keelgat verdwyn! Duidelik is daar baie wat ek nie van die hoenders en diere af weet nie! Ek kan steeds nie glo sy het nie gewurg nie! Intussen het Mnr Silky ook nader gekom en kyk my verwytend aan! Ek oorweeg my vlug strategie vir ingeval hy wraaksugtig is en ek weet met sekerheid ek gaan nie soos Mev Silky kan beweeg nie! Sy ogies kyk my asof om te se:”ek is haar broodwinner, nie jy nie!” Net vir ingeval, lig ek my voete op die stoel voor my……..

Kort daarna verdwyn Mev Silky weer agter die Sinkplaat in met ‘n erg beteuterde Mnr Silky wat haar agterna staar. Toe Mnr Silky stadig omdraai en my boos aangluur, besluit ek dis tyd om in die huis in te gaan! Ek staan op en begin om my stoel loop net om in ‘n bol vars hoendermis te trap! Vies vee ek my voet op die gras af en hoor met verwondering hoe Mnr Silky drie maal kraai……..