Ek het nie besef hoe siek ek was toe ek aankom in Heroldsbaai nie. My brein het net nie meer lekker gefunksioneer nie en my lyf wou nie saamwerk nie.My onthou was weg, sonder dat ek agterkom. Genadiglik het ek my broer gevra om my op die lughawe te kry. Hy het voorheen hier gebly en geweet hoe om te wat en te waar. As dit nie vir hom was nie, sou ek heel moontlik nog bedremmeld op die sypaadjie bly staan het. Of dalk eder gelê het. Hy het sonder moeite in gery, die regte goed op die regte tyd gedoen en heeltyd deur mooi verduidelik wat ek moet doen. Ek het net nie besef my brein mis ‘n paar noodsaaklike details nie. Nadat hy my veilig in die woonstel besorg het, het hy vertrek met die laaste vermaning van rus nou!

Hy was skaars weg toe ek sommer op die bank omval en wegsink in ‘n wondersoete slaap. Die venster was oop getrek en ek kon die see hoor bruis en die swerm voëls wat hulle in die bos, aan die voet van hierdie woonstel blok tuis gemaak het. Musiek vir my ore wat my op ‘n wolkie van saligheid laat weg swewe droom land toe. En amper alles laat vergeet het wat broeder verduidelik het. Toe my maag my uit eindelik wakker skreeu, kom ek bedremmeld regop en wonder waar ek is. Dit het my ‘n rukkie geneem om te besef dis die see wat ek hoor, waar ek is en hoekom. Eers het ek balkon toe gegaan en oor die kant gehang om die see te kan sien. Vaagweg in my agterkop het ek onthou die eienaar van die woonstel het grappender wys gewaarsku dat ek nie te vêr oor die kant moet leun nie. Met my onlekker lyf saam het ek besef dis dalk wys om daarop ag te gee. My maag het weer ongedudig gevra vir aandag en ek het besef ek sal moet ry om kos te kry. Dit is waar die sports begin het…..

Vaagweg het ek onthou daar moet iewers ‘n sleutel of twee wees. Een vir die woonstel en een vir die kar wat hulle so genadiglik tot my beskikking stel. Die woonstel sleutel het so wit dingetjie aan gehad en ek het gewonder hoekom mens nou so onbeduidende, niks seggende sleutelhouer sal hê. My eie sleutelhouers is mooi of beteken iets. Ek dog almal se koppe werk so. Min het ek geweet hoe belangrik daardie affêretjie is. As mens nie weet wat dit is en waarvoor jy dit gebruik nie, kan dit nogals interressante dinge tot gevolg hê. Veral as jy in Ford Knox wakker word. Sekuriteid is voorop die prioriteids lys van hierdie woonstel blok wat voorheen ‘n luukse hotel was. Sonder daai wit kontrepsietjie, gaan jy nerens. As jy boonop ‘n brein het wat nie op volle kapasiteid funksioneer nie, is dit ‘n wenresep vir konsternasies. Meervoud. Handsak en sleutels in die hand stap ek hysbak toe. Die ligte in die gang en voor die hysbak word deur sensors geaktiveer sodra dit beweging optel. Staan jy bietjie stil, gaan die ligte af en staan jy in ‘n donkerte. By die hysbakke is dit nie ‘n probleem nie, daar is groot vensters wat lig deur laat maar die gange is baie donker. Ek moet mooi dink watter vloer is die kar. Dit is nie op dieselfde vloer as die woonstel nie. Ek onthou broeder het gepraat van die derde en vierde vloer. Nou watter ene sal dit wees? Ek stop eerste op die vierde vloer en stap in die groot parkeer area in. Ek kan nie onthou watse kar dit is nie net dat dit wit is. Ek druk maar die oopsluit knoppie sodat die kar kan beep beep. Niks. Dan seker die derde vloer. Ek draai om en stap in die rigting van die hysbak en trappe. Ek sien nie kans vir trappe nie. My bors fluit, keel brand en my bene voel te swak om my te dra, dus maar die hysbak. Ek druk die knoppie. Niks gebeur nie. Die ding registreer nie eers dat ek die knoppie gedruk het nie. Nou wonder ek, is my vinger te koud vir die sensor of wat. Vryf vingers warm en probeer weer. Nope, dit werk ook nie. Ek sug, dan moet ek maar trappe probeer. Stadig en rus rus. Nou waar is hierdie vloer se trappe? Dit is nie op dieselfde plek as die sesde vloer sin nie. Uit eindelik sien ek ander glas deure en agter dit, die trappe. Ek stap soontoe en druk die deur oop. Of nie. Die deur beweeg nie ‘n milimeter nie. Gesluit? Hoe de watsenaam moet ek nou hier uit? My maag skel saam en ek voel sommer koorsig. Wel, dan is daar net een manier. Ek stap terug in die parkeer area in, verby die spul karre reguit na die enorme groot staal hekke. Ons het mos daar in gekom, ek kan seker daar uit. Daar is mos ‘n sensor ding wat beweging optel en die hek laat oopswaai. Toe nie. Ek staan ‘n tree of twee terug en begin arms swaai so goed as wat my lyf dit kan hanteer. Dalk het ek die sensor gemis. Nope, dit werk nie. Nader? Ek probeer weer, Nee. Nou is ek lus om te huil. My ryk verbeelding wys my al hoe sterwe ek van honger of swakheid of iets, en niemand gaan eers weet nie. Ek voel nou baie jammer vir myself. Dan maar terug hysbak toe en weer probeer.

Dalk het die hysbak net nie gewerk nie. Dalk was daar ‘n powerdip of so. Eers kyk ek of die hysbak wys op watter vloer dit is. Dit is onderskeidelik op vloer ses en vier. Dus werk die hysbakke. Net nou was dit op drie en sewe. Ek druk die knoppie. Niks. Vryf weer hande warm, druk weer. Niks. Nou wil paniek my bestorm. Ek hamer met my vinger op die knoppie. Gaan ooooooooop skreeu ek deur hoesbuie deur. Niks. Ek probeer die ander knoppie. Niks. Ek wil wil huil. Genadiglik hoor ek my selfoon biep en ‘n liggie gaan op. ‘n Sprankie hoop vlam op en amper snikkend haal ek my foon uit. Ek bel broeder. “Hi sus, geniet jy die see?”vra hy vrolik. Help, hoe kom ek uit Ford Knox snik ek en vertel hom my penarie. Dis eers ‘n rukkie stil dan bars hy uit van die lag. Hy vra wraggies of ek dan nie geluister het toe hy gepraat het nie. Die gremlins het my breins opgevreet toe ek geslaap het se ek hom. Toe sy lagbui bedaar beduie hy my weer geduldig.

By elke hysbak deur, elke glas deur, elke tralie deur, elke motorhuis hek, is so bedryfie met ‘n rooi half maan agtige liggie. Mens is veronderstel om die wit sleutelhouertjie op die swart gedeelte te druk. Dan word die rooi liggie groen. Eers dan kan jy die hysbak se af of op knoppie druk. Maar as jy dit nie weet nie, gaan jy nerens . En as jy dit nie vinnig genoeg druk en dadelik die op en af knoppie nie, dan word die groen liggie weer rooi en gebeur daar ook niks. Jy gat nerens. Staan sal jy staan. Ek het baie kere gestaan……..