Ek het al voorheen vertel dat ek uit ‘n gesin kom wat redelik ondeund en vol streke kan wees. My broer wat net jonger is as ek, is die kwaai een en kan vreeslik ordentlik en op sy plek wees as hy die dag tyd het. En dan natuurlik vir ons probeer preek maar gee hom die regte geleentheid en hy klim behoorlik uit sy kassie. Wanneer dit gebeur, is dit sy geneigdheid om te praat van die Meyeijerstreke.

Hierdie is net ‘n storie en kan ek toeskryf aan die Meyeijerstreke. En eintlik wou ek hierdie een gister skryf maar toe gebeur die ander dinge waarvan ek vertel het. Sou ek dus hierdie een gister ook plaas, het almal rede gehad het om in my sanity te twyfel. Wel, dalk twyfel julle in elk geval al lankal en is dit dalk hoekom van my blogmaats nou so een na die ander kom kuier. Net om hulle self te vergewis van die een agter die woorde….(so, wie kom na Perdebytjie?)

Van verlede naweek af, probeer ou liegbek vir my oortuig ek word siek. Ek sê haaikona, verkeerde adres. Ek weerstaan en bestraf al is dit tussen proes en hoes deur. Ek spreek lewe, gaan gin siek word nie!! NIE!!! Elke keer as die hoes my wil bekruip sê ek : ”verkeerde adres.” Ook toe ek so in die trokkie bokspring dorp toe. Hier waar ek verby die Oukasie ry, stroom riool ongehinderd oor die pad. Dit veroorsaak ‘n ongekamofleerde reuk van ou kool en teveel sousbone wat oor kook en my alreeds geirriteerde keel nog meer bedinges. Met die opkom vir asem sien ek daar voor spietkops staan en gee sommer ‘n sug byvoorbaat. Hulle is sooooo lief vir hierdie trokkie.

Sowaar as wraggies, stap die dame oor die pad. Dis een van daardie dames wat lyk asof daar teveel worsie in die dermpie ingeryg is. Dit bult orals toe heen en laat haar nog korter lyk. Lippe blink behoorlik van de lipstiek en kakebeen werk die kougom van doer agter af deur soos die Malkoei op ons plaas, goud skitter in die voorste tand. Ek wil vir my verbeel sy het een van daai stywe kontrepsies aan wat haar twee skouerblaaie nader na mekaar toe trek asof daar ‘n pyl in haar rug steek. Haar hele houding wys sy is reg vir die hele Suid Afrika. Toe haar handjie op gaan in die lug, val die tripswitch en al hoe ek kan verduidelik wat toe gebeur, is om te sê ‘n Meyejer ding het my bespring….

Ek parkeer die trokkie, skakel dit af, rol die venster af en in ‘n vloeiende beweging skraap ek die servet met tamatiesous vlek op van die sitplek langs my. Ek druk dit teen my mond en maak een van Pasella se beste kinkoes-hoese bymekaar en laat waai met soveel spoeg moontlik. Die ander hand gooi ek wild deur die venster en gil tussen die hoes deur ; “don’t come closer! Don’t come closer!!!”. Die dame het dit glad nie verwag nie en steek geskok vas. Dis duidelik dat sy nie weet wat om volgende te doen nie. Sy kyk oor haar skouer maar haar kollega kyk net so verwilderd na my. Die spoeg het die servet en tamatiesous mooi nat gemaak en ek na-aap Pasella meesterlik. Tussen deur hyg ek na asem en waai wild met die ander arm. Dan probeer ek hortend tussen deur vra ‘ Have….you…had..your ….bird..hoes hoes…flue…hoeeeeees…..injection….??” Hoes- spoeg- hoes…..

Dame se oë rek verby haar bril en sy maak ‘n omkeer wat menige jong soldaat haar sal beny en vat ‘n draffie weg van my af. Die agterstewe roer soos twee brode wat oor kook. Haar kollega begin gil van die oorkant van die pad af: “Go! Go!! Just goooooo!!~!” Gil hy en beduie wild met sy arm vir my om te ry. “What?” hoes ek en maak die trokkie se deur oop asof ek wil uitklim. “ Nooooooo, goooooo!!!!!” gil altwee gelyk vir my en dit lyk soos twee rasieleiers langs die pad soos hulle beduie. Nou ja, wie is ek om met die gereg te stry, dink ek, terwyl ek die trokkie aanskakel en al hoesende verder ry….