Die plek waar ek bly is ‘n mini kompleks as jy wil. Dit was seker twee hengse erwe wat een mens gekoop het en 4 huise daarop gebou het wat aanmekaar grens. Soos ‘n reuse u. Dit kan nogal die posman en aflewerings mense se koppe deurmekaar krap. Weerskante van die hek is die “poshuisies”. Die linkerkantste ene is genommer 72 A&B en regs 70A&B. Menigmaal staan ‘n voertuig voor die hek met ‘n persoon binne wat sy kop krap. ‘n Duidelike “Hau ” op die vooorkop uitgeêts. Ek hoor hoe plons die tor van sy dobbertjie af in die water in.

My woonstelletjie is in die hoek, aan 70B se huis vas gebou. My sitkamer muur is 70A se motorhuis muur. As ek deur my sitkamer venster sal kyk, is 72A en 72B reg voor my met almal se parkeer plekke, reg voor elkeen se motorhuis deur. My lessenaar is juis voor die venster. Ek het digte gordyne sodat niemand kan inkyk nie. Die gordyne maak egter die vertrek donker en ek maak ‘n stukkie oop waar ek kant gordyn het. Die sonnetjie val in ‘n vrolike streep na binne.

Niemand kuier eintlik oor en weer nie en ek moet sê, ek keer maar vir die vale as 72A nader staan. Vreeslik nuuskierig en opdringerig. Haar bure, 72B ken ek glad nie, maar die man kom baie bot en onvriendelik voor. Die min kere wat ek met hom te doen gehad het was hy kortaf en ongeskik. Ek laat dit van my rug af water soos ‘n goeie eend betaam. Groot is my nuuskierigheid toe hulle begin trek en hierdie einste huis laat uit verhuur.

My nuwe bure trek in met groot lawaai oor paas naweek. Die een sleepwa na die ander word aan gery en afgelaai. Self besig met die dienste en so aan, sien ek min van die trek. Die goed wat by hulle voordeur besig is om op te gaar maak my bietjie onrustig voel. Smaak my ook die voertuie teel aan en parkeer spasie raak al hoe minder. Wanneer ek met tussen periodes tuis kom, mik om te gaan verwelkom maar elke keer is dit iemand wat help wie se hand ek skud en is die nuwe intrekkers elders. Ek laat staan maar vir ander keer. Saterdag laat begin ek koes koes deur die gordyn dophou. Ek wil nou nie 72A se streke aanleer nie maar Sondag oggend moet ek vroeg uit en hulle het my vas parkeer. My voertuig staan in die motorhuis en het hulle netjies voor my motorhuis parkeer. Nog een van hulle voertuie staan so naby dat ek nie eers skeef skeef tussen een en nog ‘n ander kan deur sluip nie.

Ek is al in my nagklere en japon toe ek uit eindelik laat Saterdag aand lewe gewaar. Ek oorweeg om eers weer in klere in te glip maar besef tyd is teen my. The window of oportunity… Ek vee ‘n slag oor my ongetemde hare en trek my japon stywer teen my vas. Dit moet nou maar doen, gelukkig is dit pikdonker buite waar ek hulle hoor. Ek glip by my voordeur uit en mik in die rigting van hulle motorhuis wat nou oop staan. My oë moet nog gewoond raak aan die donker, ek sien nie ‘n mens nie. So ek hak af met “koewieeeeeee”, tant Stienie sou trots gewees het op my. Ek skrik myself yskoud toe ‘n stem hier reg langs my sê:” oe hoe skrik ek nou” Amper elmboog ek haar. Wat meen sy hoe skrik sy nou? Ek het haar nie gesien nie en duidelik sy nie vir my nie. Wie die grootste geskrik het is debateerbaar. Ek vergeet skoon ek moet myself voorstel. Sy trek nietemin die een voertuig weg sodat ek Sondag net net verby die ander voertuig kom. Eish…

Groot is my verbasing na die naweek toe nog vragte goed aan gery word. En die onooglike versameling voor hulle deur, in die parkeer area, al hoe meer word. Parkeer plek word al hoe minder. Totdat ek naderhand nie eers meer my kar by die motorhuis kan in kry nie. Ook nie voor my motorhuis onder ons skadunet kan parkeer nie. Gelukkig is 70A tans met vakansie en stop ek onder hulle skadunet voor hulle motorhuis deur. Ek wil nie die buurvrou word wat kla en mor nie. Hulle motorhuis staan vol goed. Gee hulle kans, jy weet mos, trek is harde werk en neem tyd. So gee ek maar kans sonder om ‘n woord te sê oor my spasie wat in geneem word. Ek gaan kuier ‘n dag of twee by my sus en kom terug na nog groter wanorde voor my deur. Eish. Op jou tande byt vrou. Ek stop maar weer onder 70A se skadunet. O gats. Die bedryfie het verander. Die skadunet is met sterk konstruksie aan die muur vas, dit het nie ‘n poot wat op die grond geanker is nie. Die yster paal raamwerk is sleg gebuig en die net hang pap, skeef. Watdehel, soos vriendin sou sê.

Skoonseun verduidelik nog ‘n wavrag goed het die paal bo gehak en amper uit die muur geruk. Die hele affere sal oorgedoen moet word. Ek is dankbaar my kar (en ek) was nie daar toe dit gebeur het nie. Die keer sou ek dalk my water en ligte weg geskrik het en dalk nie so kalm stil gebly het nie. Hoedehel wil ek vra. Behalwe dis seker nie mooi om die woorde te gebruik nie. Ai toggie. Later die week sukkel ek met die op die tande byt storie as ek sukkel om uit te kom. Ek word weer en weer vas parkeer. Gister oggend kom die geleentheid uit eindelik toe hulle vroeg weg ry met die voertuig wat so in my spasie in bly parkeer het. Ek en skoonseun vlieg uit, en parkeer ons voertuie netjies langs mekaar soos dit hoort. Ek klap moedswilligheid van my skouer af en gebruik nie meer plek as nodig nie. Toenou vrou, jy weet beter. Probeer eder ‘n voorbeeld wees, hulle is nuut. Toe hulle laat middag wel terug kom, trek ek ‘n 72A op myself en hou onbeskaamd dop deur my kant gordyn. Ek kyk nie die gluur na my deur se kant toe mis nie. Ek kry hulle eintlik jammer toe een van die baie karre wat hulle sal moet skuif om te kan parkeer, nie wil aan skakel nie. Dis nogal ‘n foeterjasie om dit ge”jumpstart” te kry en al die voertuie te heen en weer tot almal min of meer plek het. Ek kreun innerlik, dit lyk effe soos ‘n groot scrapyard hier voor…

Vanoggend vroeg vroeg koffie en Bybel ek buite in die tuin. Agter my, begin ‘n getimmer. O wee, dink ek. So much vir die ouens wat op Saterdag wou laat slaap. Die timmer begin al harder raak en dan kraak hulle motorhuis deur oop. Allerhande ongewone geluide en gewerskaf klink op. Ek probeer dit ignoreer. Dit werk nie heeltemaal nie. Toe ek later my huisie binne gaan, gaan doen ek gou ‘n inspeksie deur die kant gordyn. Die sleepwa word vol gelaai en ek slaag ‘n sug van verligting. Ek het myself nog nie gaan voorstel nie en ek wonder oor hulle. Wie, wat, waar en so. Altwee loop feitlik heeltyd met sigaret wat half skeef uit die mond hang. Manlief dra sterkman hempies al is hy duidelik nie meer ‘n jongman nie. Hy laat my dink aan Andy Capp. Maar hy dra nie die hoedjie nie. Dan moet haar naam Flo wees, dink ek. Behalwe sy het nie krullers in die hare nie. Net na agt klap die eerste koue Leeu in ‘n blik. O jinne, dink ek, beter ek bly weg van die kant gordyn, hiekomiding…….