Janey Raath, my oudste se jongste. Ek kan skaars glo dis vier maande gelede. Die tyd het so gevlieg ten spyte van al die uitdagings en diep emosies wat met haar geboorte gepaard gegaan het. Anders as met haar sussies, kon ek nie by die hospitaal my stelling inneem nie, danksy Corona en die se reels. Ek het by hulle huis gewag, opgewonde vir nuus en fotos. Ek was ook op ouma duty en moes haar sussies by die skool gaan haal en versorg. Die tyd van die keisersnit het gekom en gegaan en geen fotos het gekom. Dalk het pappa vergeet om te stuur en ek het gretig navraag gedoen. Hy het nie geantwoord nie en ek het besef daar is iets aan die gang. Die swangerskap het redelik goed gegaan maar was veral vir oudste spanningsvol omdat sy twee babas verloor het tussen sussie Cara en Janey. Ek het net gesmeek dat my oudste se hart beskerm moet wees, ek het gepleit, ter wille van haar.

Toe die nuus en fotos uit eindelik kom was ek sommer naar van verligting. Die trane het net gestroom sonder keer. Ons kleinste was veilig in haar mamma se arms. Mamma, so pragtig, se oë was seer en vol vrae en bang wees. Janey is gebore met een ooglid wat nie reg gegroei het nie. Dit het gemaak dat die een ogie oop gebly het en nie kon knip nie. Genadiglik het haar ogie self niks makeer nie en het reg gewerk. Ons was diep dankbaar en vir ons is sy pragtig.

Ons klein liefling moes ‘n oogklap dra sodat die ogie nie uitdroog nie. Sy moes ook gereeld spesiale oog salfies kry. Sy moes narkose kry en opereer word om die ooglid te herstel. Nog ‘n klompie weke met ‘n oogklap en salfies deur staan. Die oogklap het haar vreeslik irriteer en die rekkie het haar koppie seer gemaak. Sy het konstant gehuil, op die punte van haar longe en stembande. Haal mamma die oogklap vir rukkies af, hou sy op huil. Sit sy dit terug, huil ons liefste prinses haar klein hartjie uit. My liefste Tallie kind het swaar gedra aan hierdie vrag. Seuna ook. Sussies Miah en Cara het gebid en met vraende ogies op hulle Wouwa se skoot geklouter.

Slaap was min, vir almal in daardie eerste paar maande. Sy moes weer teater toe en narkose kry om die steke uit te haal. Hoe soet was die dag toe die oogklap uit eindelik verwyder kon word. Ons kleinste poppie het verwonderd die wereld bejeën en haar huil aansienlik minder. Hierdie amasing klein dogtertjie het ‘n wil om te lewe, is ratel taai en bestem vir Godgelooflike dinge.

Sy is ons klein wonderwerkie en met haar sonnige glimlag maak sy almal se harte smelt.

Ousus Miah en kleinsus Cara geniet haar eindeloos. Wanneer klein Janey een van hulle stemme hoor, draai sy haastig haar koppie en soek na die stemme. Duidelik gek oor haar sussies.

Vanaand wil ek diep diep dankie sê. Aan ‘n Allergrootste, Allerheiligste skepper God wat klein Janey vir ons gegee het. En dat ek so geseend is met al my liefielyfies. Ook die tweetjies in die hemel…