November 2021

Ek kan nie onthou waar my liefde vir Olifante begin het nie. Ek onthou wel my vreesaanjaende ondervinding as vier- of vyfjarige, in ‘n kar tydens ‘n besoek aan ons Nasionale Wildtuin. ‘n Matriag het ons voertuig gestorm en ons moes ons vinnig uit die voete maak. Ek was bitter bang.

Ek het dit onthou toe ek hierdie vidio sien. https://youtu.be/0v9IV8joyxg

Hoe ek ookal dink, weet ek nie na so ondervinding dit moontlik is dat ek so mal kon wees oor olifante nie. Vir so lank as wat ek onthou het ek altyd die begeerte gehad om naby olifante te kan wees. En om op een te ry. Eers later het ek uit gevind hoe ongesond dit vir Olifante is as mense op hulle ry.Dit was in 2017 toe ek vir die eerste keer regtig naby Olifante gekom het. Dit was net voor my jongste se troue en ons het bespreek om die dag saam met Olifante te spandeer as ma en dogter spesiale ondervinding voor sy trou. Eers het ons piekniek gehou. Daarna het hulle ons op afgespreekde tyd in een van daardie oop voertuie kom oplaai en olifante toe geneem. Ek was onder die indruk dat dit relatiewe mak olifante was. En wou met alle mag aan een raak. Die bewaarder het ons ook toe gevra wie wou en ek het aan die ou grote geraak onder die streng bewaking van die bewaarder. Min het ek egter geweet dat hulle nog maar in die proses was om hulle mak te maak en dat die Olifante nog maar sku en wantrouig was.

Almal het op ‘n redelike afstand gebly selfs ek, wat net nader gegaan het op uitnodiging van die bewaarder. Dit was juis toe ek nader beweeg op versoek wat dinge buite beheer geraak het. Daar was drie olifante. Almal het entjies van mekaar gestaan en bome bevoel. Terwyl ek stadig vorentoe beweeg het, het die kleinste olifant onverwags om gevlieg en begin hardloop. Reg op my af. Die bewaarder het hard vir my geskreeu dat ek moet stil staan en ek het behoorlik versteen. Sy het dadelik met die olifante begin praat. Intussen het die groter olifant ook begin hardloop, of nee, storm. Asof sy dink ek bedreig die kleiner ene. Sy het tussen die kleintjie en my probeer in storm. Die twee olifante het albei rakelings by my verby gestorm. Ek dog vandag sterf ek en indien nie van ‘n olifant nie, dan wel aan hart aanval. Die stof en los klippe wat om my neer gestort het, sien ek steeds helder voor my. My dogter se gil, ‘n man agter iewers se vloek en bewaarders wat gil en skel is steeds helder wanneer ek terug dink. Ek onthou hoe my hele lyf geruk het en ure daarna nog gebewe het.

Ten spyte van ook hierdie amper noodlottige ondervinding, het olifante my bekoor en was dit steeds asof hulle my aantrek soos ‘n magneet. Dit was in 2021 toe ek as verjaarsdag geskenk alleen vir ‘n paar uur saam met Olifante en ‘n paar bewaarders tyd spandeer het. Dit was die keer ‘n wonderlike ondervinding wat ek verseker weer sal wil beleef. Ek besef egter dat om daardie spesiale band met een te hê, slegs kom deur jare se vertroue te bou. En ja, ek besef hulle bly steeds wilde diere en uiters gevaarlik.

Ek besef dat ons mense baie kere iets romantiseer. En in ons koppe dinge bedink, prentjies bou en dan glo dis hoe dit is of gaan wees. Die lewe en die natuur is nie romanties nie. En dan is ons teleurgesteld as dinge nie is soos ons gedink het nie. Ek onthou nou nadat ek die tyd met die olifante spandeer het, was ek besig om uit te stap toe die bewaarder vra of die een olifant my mag soen. Romantiese streep wat ek het is my antwoord ‘n gretige ja. Die bewaarder het my beveel om mooi stil te staan en sê toe vir die olifant :” kiss”. Olifant het sy slurp gevat en my kaplaks op my wang gesoen. Dit het gevoel soos ‘n nat, snotterige stofsuier wat my wang vasgryp en suit. Dit was erg grillerig en ek moes my gesig gaan was. Saam met die snot was sy slurp vol modder en was ek boonop lekker vuil daarna. Ek ril sommer weer as ek terug dink.

Net so, droom ons almal oor ‘n lewe vol romanse en goeie dinge. Dan maak die lewe ons bang of gee ons ‘n snot klap. Soms tref gevaarlike situasies ons en laat ons in bewing vol stof. Ons het ‘n keuse. Gaan ons ons neuse optrek en nooit weer droom nie? Gaan ons dat vrees ons oorheers en weg kruip vir die wereld en asemwegalaan oomblikke? Of gaan ons dit afwas en weer probeer. Die keuse is joune..